Dit het vreeslik gereen die laaste week, Saterdag het dit gesous en ons is moeg vir binne wees. Ons besluit dus om Sondag te gaan stap, as dit nie reen nie. Ons word inderdaad Sondag wakker met blou lug. Ons het niks gereel of reggemaak om te gaan stap nie. Ons is eers kerk toe, beplan om sommer daar pasteie te koop vir die stap en dit is natuurlik die een Sondag wat die kerk nie pasteie verkoop nie. Ons gaan leen ook eers gou ‘n fiets en val so 12:00 in die pad. Toe ons by Toti stop kom ons agter dat die wind waai, regtig baie waai. En die wind waai teen ons soos ons wou stap. Ons is nie lus om andersom te stap nie en besluit ons sal maar teen die wind stap. Dom, dom, dom. Ons het hard gewerk vandag teen die wind. En die stukkie wat ons saam met die wind gestap het was sooooo maklik. Ons sou soos die wind die afstand vandag kaf gedraf het, gevoel het of ons vlieg. En die hartseer deel is, ons weet regtig eintlik beter.
Ons sluit die fiets so half agter ‘n besigheid vas. Dit is seker effe privaatgrond, teen ‘n heining waar die besigheid se asblikke staan, maar dit is reg langs twee parkeerplekke, en dit is oop en bereikbaar. Dit is nie eintlik sigbaar van die straat nie, en ons hoop niemand sal die fiets sien nie. Toe Francois daar aankom om terug te ry het die eienaar van die besigheid (wat baie toe was) die fiets ontdek, besluit dis iemand wat ‘n affair het in die woonstelle langsaan en ‘n foto van die gesteelde fiets geneem en vir die polisie gestuur. Ons vra toe maar om verskoning en hy se hy is net bly hy het wel uitgevind wat aangaan.
Ons parkeer omtrent 6 km verder en begin stap. Die wind waai verskriklik en ons besef omtrent onmiddellik dat ons in die verkeerde rigting stap, maar ons is te dom om terug te gaan en die fiets en kar om te ruil. Ons stap van 12:40 tot 3:36. Ons is doodmoeg, ons bene is seer en selfs die seuns kla dat hulle bene pyn. Gewoonlik kla hulle nie terwyl ons stap nie.
Ons eindig net anderkant ‘n redelike groot rivier by Toti. Ons het op Dag 4 tot teen die rivier gestap en eindig vandag aan die oorkant van die rivier. Ons kruis nog twee redelike groot riviere, een deur ‘n klein draai te loop, oor ‘n sokkerveld en voetgangerbruggie en een wat ons sommer net tot by ons enkels nat word. Ons hond is baie bang vir water en kom net deur die rivier as hy agterkom ons is almal aan die ander kant as hy. Sy tegniek is om hard te tjank, te hardloop en te spring. Hy beplan nie baie goed nie. Die rivier is hy op ‘n dieperige deel deur, maar dit was smal en hy het net naby die oorkantste wal in die water geval.
Ons het nie ver gestap voor ons honger was nie. Ons het langs die pad op ‘n klompie rotse ons hotdogs patkos geeet, wat ons 11 jarige seun vir ons heeltemal alleen gemaak en ingepak het. Dit was doodreg en heerlik, ons kan dalk so bietjie aan die verpakking werk.
Dit was baie baie koud. Mens het nie eers gevoel of jy in die son was nie. Die sterk wind was baie koud. Ons het die heeldag met ons warm klere aan gestap en het by tye nogal koud gekry.
Aan die einde het ma en seuns op die strand gewag terwyl pa na die fiets toe is en toe kar toe gery het. Hy het net 24 minute fiets gery. Arnold het ‘n sandkasteel gebou met gragte en mure om dit teen die water te beskerm. Die hond is baie erg oor Pa en dit was vir hom baie sleg om by ons agter te bly terwyl sy gunsteling mens wegstap.
Tiaan het ‘n stuk palmblaar opgetel en met dit soos ‘n swaard rondgestorm. Hy het gese hy charge en in die wind ingehardloop met die swaard van hom. Dit was ook pret om skuimbolle te jaag wat deur die wind aangejaag word. Dit het gevoel of ons verskriklik stadig stap vandag en dit was baie harde werk so teen die wind.
Afstand: 6.2 km vandag gestap (en nog 2.6 km voor Natalia waar ons al baie gestap het tel ook)
Tyd: 3 ure
Spoed: 2 km/uur
Riviere: 4