Sunday, September 16, 2012

Dag 21: Umkomaas, 10 Augustus 2012

Dit lyk my die helfte van Durban het vrouedag berge toe gery om sneeu te kyk en die ander helfte was op die lughawe om Chad le Clos terug te verwelkom.  Ons het beplan om te gaan stap.  Ons was bietjie stadig uit die blokke en het toe eers die 10e Augustus gaan stap. 

Ons wou vir die naweek Suidkus toe gaan, ‘n nag iewers oorslaap en twee dae stap.  Ons kon nie blyplek kry nie en was nie lus vir kamp in die koue nie.  Toe besluit ons om maar by die huis te slaap en steeds te gaan stap.  Ons probeer ook ‘n nuwe ding die keer.  Ons ry ‘n fiets in die kattebak saam, los die fiets by die eindpunt en Francois ry met die fiets terug na die kar. 
Ons was al baie in Umkomaas.  Dis waar die bote te water gelaat word om by Aliwal Shoal te gaan duik.  Ons was nog nooit op die strand by Umkomaas nie.  Ons jaag net altyd vroeg na die duikskool, kry ons toerusting, klim op ‘n bakkie, dan op ‘n boot en jaag oor die branders diepsee toe.  Vandag sien ons nou die strand. 
Ons los die fiets vasgesluit teen die heining waar die duikers se bote te water gelaat word.  Daar sit ook ‘n vriendelike wag in ‘n huisie.  Ons neem aan die fiets is veilig.  Toe ry ons tot by Umgababa, daar is ‘n groot parkeerterrein en los die kar.  Ons stap vinnig en voorspoedig, vir omtrent 20 minute.  Toe is daar ‘n rivier voor ons wat stadig vloei en nie na baie lyk nie, seker so 5 m breed op plekke, en dalk net 2 m breed waar dit die see ingaan.  Francois probeer deurstap en is tot by sy middellyf nat voor ons besluit om dit nie te doen nie.  Dis ysig.  Ons stap toe ver terug en klouter teen die treinbrug op, gaan op die brug oor en stap om die laguun.  Die hele oefening moes seker ten minste ‘n halfuur gevat het.  Dis pragtig en ek skat die gesukkel is wat die avontuur maak.  Gelukkig kom daar nie ‘n trein verby terwyl ons op die brug is nie. 
Daarna druk ons deur en stap baie vinnig tot by ‘n groot wit huis ver op die horison.  Kilometers. 
Hier rus ons en eet al ons kos op.  Hierna is die rugsak nogal baie lig.  Die seuns geniet die walle sand vreeslik baie.  Daar is een baie hoe een waar hulle oor en oor afspring.  Hulle is baie opgewonde daaroor en se dit is die beste ding ooit.  Hulle karring baie aan ma om dit ook te doen.
Ons sien modelvliegtuigies, drie van hulle.  Hulle vlieg nogal baie hoog. 
Dit is ‘n baie stil stuk strand.  Ons sien nie eintlik ander mense nie.  Dit is ook nie eintlik moontlik om met ‘n kar hier te kom nie.  Jy sal moet stap.  Ons kleinste maak klippe bymekaar, ‘n groot sak swaar klippe wat hy aandra. Dis swaar.  Ons oudste het ‘n redelike groot krap gevang en na ‘n rukkie het die krap genoeg gehad en hom met sy knyper geknyp.  Hard.  Dit het vasgesit en hy het geskud en getrek en gesukkel om die ding af te kry.  Dit het baie seer gelyk.  Daar was bloed en ‘n baie groot skrik. 
Ons is baie vinniger by Umkomaas as wat ons verwag het.  Ons het die afstand met die kar op die pad gemeet en dis amper 2 km korter op die strand.  Ons is dus effe verbaas toe ons by Umkomaas kom.  Pa kry die fiets en ry 9 km (met ‘n redelike klomp op en afdraandes) terug na die kar.  Ma en kinders bly op die strand.  Hulle spring eers lank teen die hoe snadwalle af.  Toe stap ons na die rivier, waar ons baie lekker in die koelte onder die brug sit.  Heerlik om uit die son te kom.  Ons kyk hoe bote vol duikers inkom, die seuns klouter teen de brug se pilare rond en ma rus uit die son uit.  Pa het glad nie sleg gedoen nie, en laat weet ons na omtrent 45 minute dat hy by die kar is.
Ons wag vir hom net voor die brug, ry oor die brug en stap na die brug tot by ‘n restaurant (Waves), waar pa solank vir ons wag.  Ons bestel melkskommels, chips en hamburgers.  Die kos was nogal lekker, of ons was net so honger dat enigeiets sou lekker wees.  Hulle het baie lekker ‘Adult milkshakes’, glad nie sleg nie.  Na die etery stap ons nog so 1 of 2 kms en ry huis toe.
Ons hond het saamgestap.  Hy is ‘n baie goeie bergklimmer, maar hou nie van water en die see nie.  Ons het hom tot nou toe altyd deur riviertjies gedra en wou vandag kyk wat hy doen as ons hom nie deurdra nie.  Ons los toe die hond aan die oorkant van ‘n 2 m wye baie vlak rivier.  Hy tjank en hardloop heen en weer en gee toe een reuse sprong tot amper aan die oorkant.  Hy was so trots op homself dat hy kon deurkom.




Afstand:  9.7 km
Tyd:  4 ure se stap, langer dag as mens die uiteet (wat lank was) bytel
Riviere gekruis:  4 (2 groot)

No comments:

Post a Comment