Thursday, October 6, 2011

Dag 9: 1 Oktober 2011; Zinkwazi tot Tugela Mond

Ons gaan kamp vir die naweek !!
Die plan vir die naweek is lank terug uitgedink.  Ons het omtrent ‘n jaar gelede by die Amatikulu natuurreservaat gaan kamp.  Daar het ons uitgevind dat die een unieke aspek van die reservaat is dat daar vir omtrent 10 km ‘n rivier parallel met die see vloei.  Tussen die rivieren die strand is net ‘n duin.  Na ons ‘n paar km gestap het, het ons ook tot die gevolgtrekking gekom dat die stappery maar baie eentonig kan raak.  Soms is die see pragtig, veral as daar rotse is, maar soms lyk ‘n lang reguit sandstrand maar net soos al die ander lang reguit sandstrande.  Die idee is dus om hierdie stukkie te roei op die rivier i.p.v om op die strand te stap.  Die naweek dus bedoel as iets was so effens anders en afwisseling sal wees.  Ons spaar die stap vir die skoolvakansie wanneer ons ‘n paar dae na mekaar kan stap en die hele stuk tussen die Tugela rivier en die Matikulu rivier kan doen.  Ons weet dit is September/Oktober: reënseisoen in die wêreld, maar dis wanneer die skoolvakansie is en daar is nie veel wat ons daaromtrent kan doen nie. 
Ons het nogal baie uitgesien na die naweek en om weer ‘n slag te stap.  Ons het vreeslik voorberei, stapkos gekoop en koekies gebak.  Dit reën baie Vrydagaand terwyl ons inpak om te gaan kamp. As ons nie deur die week so baie moeite gedoen het om koekies te bak en goed reg te kry nie, sou ons sommer net besluit het om nie te gaan nie.  Wie wil nou in die reën kamp en stap??

Saterdagoggend staan ons vroeg op en kom 6:10 bymekaar op die N2. Ons ry Tugela Mond toe, soek ‘n kampplek, sorteer die stapgoed uit, blaas die boot op, en vat baie lank. Ons slaan nie tent op nie. Toe ry ons Zinkwazi toe en begin daar in die parkeerterrein stap.  Ons is gelukkig hierdie naweek om ‘n bestuurder (seconder) te hê wat ons aflaai en weer kom oplaai by die eindpunt.  Dit maak die lewe oneindig makliker.

Ons begin 10:00 stap. Ons stap besonder voorspoedig. 4 ure later is ons 9 km verder by die Tugela mond.  Vandag se stap was heel mooi.  Die sand was hard van reën die vorige aand en ons het dus baie lekker gestap. Daar is n mooi, groen woud reg langs die strand met knopperige bome, dit lyk soos n toorbos en voëltjies sing. Tiaan sê ons het ‘n woud, ‘n woestyn en ‘n oseaan. Dit is die verstommende ding van die KwaZulu Natalse kus dat bos en see so naby aan mekaar kan wees. 
Ons jongste dogtertjie se voet is seer halfpad deur die stap.  Sy trek ander skoene aan en met baie aanmoediging van die grootmense stap sy verder.  Dit lyk of die tekkies beter werk as die stapsandale waarmee sy begin het.  Ons is trots op jou.  Twee dae later lyk dit darem nie of die voet pla nie.
Ons kom baie vroëer by die riviermond as wat ons die seconder vertel het ons sou.  Die idee is om met die boot oor te roei.  Die Tugela is nogal wyd en dieperig.  Ons bel die seconder en wag seker omtrent ‘n halfuur vir hom om op te daag.  Die twee mans swem en waad deur die rivier en gaan kry die boot.  Hulle roei toe na ons en ons ry in twee sessies oor die rivier.  Die kinders geniet dit baie en dink dit was snaaks om aan die boot vas te hou en sommer net saam te swem.  Twee van die kinders kon dus seker maar net sowel sonder ‘n boot deurgeswem het.  Ons kon darem al die rugsakke droog oor die rivier kry. 
Dit was’n baie lekker dag, mooi en opwindend en die bootry aan die einde het net genoeg ekstra opwinding verskaf.  Die een gesin ry met die boot terug kamp toe en die ander gesin stap nog omtrent 1.6 km om die mond na die kampterrein.  Ons kom gelyk by die kampterrein aan.  Die wind waai kwaai en dis stukkie van die riviermond tot by die kamp is niks lekker nie.  Sommer net ‘n ploeg teen die wind.  Dis darem kort.  Die laaste stukkie doen ons in die teerpad. 
Die grootmense slaan tente op en maak die kampplek reg.  Die kinders speel in die kampterrien rond en ry fiets.  Dit lyk nie eintlik asof hulle moeg gestap is nie.  Hulle het nog baie energie.  Ons braai vleis en is almal 8 uur in die bed.  Die weer het die hele dag mooi saamgespeel nadat dit so reënerig gelyk het die vorige aand.  Ons het in lekker weer gestap.  Nadat ons klaar geëet het, en in die bed was reën dit.  Baie.  Ons een matras word nat omdat ons die een tenttou nie goed gespan het nie en water deur die tent gesypel het.  Ons vind dit ongelukkig effe te laat uit.  Ons vriende se woonwa lek bokant een bed en hulle het dus ook ‘n nat matras en die seconder slaap in die sytent van die woonwa, waar water ook inloop waar die woonwa en die tent bymekaar kom.  Sy beddegoed is ook nat.  Ughhh.  Ons word dus so effe nat wakker.

Afstand gery:  90 km
Afstand gestap:  9 km as hele groep en nog 1.60 km deur die een helfte
Riviere geskruis:  1
Bote geroei:  1
(Toe ek die stukkie vinnig vir spelfoute deurlees sien ek hoeveel keer ek die woord reën gebruik het.  Dis lesers, as ek julle verveel (en veral met die volgende inskrywing), drink ‘n sopie elke keer as ek die woord “reën” gebruik.)
Een idilliese gesin

Die kinders op 'n tak

Ons maak seegras bymekaar.  My man sê dat hy nog nooit sulke seegras gesien het nie.

Middagete op 'n rots
Die knopperige, spokerige woud langs die strand
Die Tugela Mond is daar iewers voor
Die vuurtoring by Tugela Mond.  Ons is oor die rivier met die boot.




No comments:

Post a Comment