Sunday, October 16, 2011

Wat Dag 10 moes wees: Tugela Mond, 2 Oktober 2011

Party goed werk nie heeltemal uit soos dit beplan is nie.  Die plan was om baie vroeg in die oggend na ‘n punt omtrent 6 km van Tugela mond te ry, die bote daar te water te laat en dan in die Nyoni rivier af te roei tot by Amatikulu rivier mond waar ons weer opgelaai word.  Klink lekker en maklik.  Een van die attraksies van die plan was ook dat die kinders in die bote kan sit en nie hoef te stap nie.
Die realiteit lyk soos volg.  Ons spandeer meer as ‘n uur in die oggend aan die bote.  Die een opblaasboot het twee groot gate wat muise in die stoorplek in die boot gevreet het.  Regtige groot gate.  Die roeier het die gate die vorige aand probeer heelmaak, maar dit lek steeds.  Ons los toe maar die een boot by die huis en ry om die begin van die rivier te gaan soek.  Ons het ‘n baie goeie kaart van die omgewing wat klein paadjies aandui.  Ons ry meer as ‘n uur lank in die baie plattelandse area op baie modderige paaie rond sonder om ‘n plek te kry waar ons kan see toe stap nie.  Die area is pragtig, met redelike paaie, as dit nie nat was nie, en hutte hier en daar op die heuwels. 
Na omtrent ‘n uur gee ons op, ry terug kamp toe.  Die vroue en kinders bly by die kamp terwyl die mans weer ry en die pad soek.  Hulle is op die ou einde 5 ure weg.  Die vroue en kinders speel, ry fiets, swem, speel skaak, speel boardgames, speel op die strand en duine en stap omtrent 500 m op die strand na die Mond en terug.  Dit is heeldag bewolk en reënerig.  Die reën kom en gaan. 

Die mans wou baie graag gaan kyk of ons die pad kan kry uit Amatikulu.  Daar aangekom ry ons so ver as moontlik suid in die park.  Ons probeer op twee plekke stap, die eerste een loop ons nie ver nie maar besluit dat die tweede plek nog beter gaan werk.  Daar is ‘n ou pad wat toegemaak is.  Ons stap tot bo-op die eerste rant met die pad langs en dit gaan heel maklik. Vyftig meter later loop die pad egter dood en ons begin boendoe-bash na die see se kant toe.  Ons kom op ‘n klein stroompie af wat pragtig is en ons bewonder die natuurskoon en verlatenheid.  Anderkant die stroom val ons egter vas en besluit ons sal NOOIT ‘n boot of ‘n kind hier deurkry nie.

Amatikulu word laat vaar as ‘n moontlike plan vir die volgende dag of enige dag wat kinders of bote insluit!  Ons keer terug na die kaart en die pad deur die platteland.  Na omtrent 30 minute kry ons onsself op die kaart.  Die comerades pa verbaas ons almal om so goed kaart te lees.  Ons verdwaal nie een keer nie!  Ons eindig by die natuurbewaarder van Red Hill Natuurreservaat, ‘n baie vriendelike man wat met groot geduld al ons vrae antwoord, al die paaie en riviere wys en selfs raad gee oor bote en Amatikulu.
Ons is opgewonde om die volgende dag te stap, ons voel ons sal maklik en vinnig by die pad kan kom wat ons na die strand sal neem.  Ons drywer bestuur die hele tyd en is goed met ‘n kar wat nie syne is nie.  Die paaie is nie baie nat of glad nie en ons voel heel gemaklik.

Ons het toe nie vandag gestap nie, maar belangrike beplanning vir more gedoen.  Ons braai lekker, kuier lekker, lag verskriklik vir die kinders se lawwe konsert.  Hulle het ‘n radio, wat witgeraas maak en ‘n aabieder wat met ‘n swaar aksent praat.  Regtig snaaks.  Dit eindig met die radio wat ‘n weervoorspelling maak vir more.  Hy voorspel dat hierdie plek nie reën gaan kry nie, bedoelende binne die tent waar daar ‘n dak is.  Die ander kinders dink dis vreeslik snaaks en kan amper nie ophou lag nie.  Dit reën weer deur die nag.  Ons is nou al effe moeg vir klam wees.

(Hoeveel keer het jy die woord "reen" getel??)

Kilometers gery:  Te veel
Kilometers gestap:  Te min

Pa braai vleis.  Baie lekker.

Die kampterrein by Tugela Mond
Die kampterrein:  http://www.tugelamouth.co.za/

No comments:

Post a Comment