Vandag word deur een van die ander stappers geskryf, dus 'n gas blogger:
Ons laat die een ma agter by die ondersteuningspan en vertrek weer verder oor die oop sand strand. Lang oop sand. Dit was voorwaar ‘n interessante dag van afwisseling. Na ongeveer nog ‘n uur kom ons weer by ‘n groot gety poel en ‘n baie mooi karavaanpark. Dit was Salt Rock. Die natuur roep en ons gebruik die ammunisie blok (soos ek al iemand dit hoor noem het). Die een jonger seun met die sand tot op die kroontjie word gou onder die stort afgespoel deur die een verantwoordelike Pa. Ons klein nefie lyk bietjie blou, maar hy weier om te erken dat hy koud kry. Dis reg so. Sy Ma is nie naby nie en die ander verantwoordelike Pa voel dat dit wat nie doodmaak nie, net kan karakter vorm. Dit is van die besondere by voordele van hierdie stap. Ons kinders geniet dit. Ons doen iets saam in die gesin en so word waardes en norme gevestig.
Laat middag toe daar min broodjies oor was moes ons mooi deel en ‘n mens waardeer elke stukkie vreeslik baie. Sommer veel meer as die Spur burgers wat ons na die tyd gaan eet het. Ons sien daarna uit om later meer buite die beskawing te stap met projek Strandlopers. Later sal die kinders dalk ook klein rugsakkies moet dra. Ek wonder hoe sal dit die spoed, speel en swem beinvloed. (Redakteur: Ek dink dis 'n goeie idee om rugsakke op die kinders te sit om hulle stadiger te kry. Miskien moet ons ekstra klippe insit.) Ons leer weer om dit wat ons so vanselfsprekend aanvaar, regtig te waardeer. Die een Ma se voet ongeluk ( anemone ) het so maklik gebeur. Miskien moet ons almal hieruit ‘n les leer. Die kinders sal dalk moeiliker gekry word om skoene te dra.
Na die karavaan park sien ons 'n troue op die strand en sou eers ‘n uur later hoor dit was toe einlik die hotel waar die ondersteuningspan gewag het. Ons stap weer oor rotse en weer op oop sand. Ons vra raad by ‘n plaaslike visserman maar dit was nie van veel waarde nie. Ons vra weer aanwysings by ‘n plaaslike stapper op die strand en verneem dat ons bykans by die Noordste punt van Sheffield beach is. Die man begin eers spot en se “ If you are looking for Mocambique you are going in the right direction “ Wel ons sien met groot verwaging daarna uit om waarlik binne ‘n jaar of twee dalk regtig die volle pad te stap tot op die Mosambiekse grens. Ons kry ‘n paadjie wat opwaarts lei na die teerpad en so kom nog ‘n fantastiese dag se stap tot ‘n einde. Dit was vaarwaar ‘n voorreg. Ons het weer die Skepper en Skepping en gesondheid van vooraf waardeer. Ons sien met verwagting uit om weer volgende keer verder Noord te gaan.
Die ondersteuningspan tel ons op met twee voertuie en ons waardeer hulle regtig baie. Baie dankie julle. Julle is dierbaar. Lief vir julle.
Kyk Noord. Gaan voort. Vasbyt. Dit is ‘n voorreg om jou bene te kan gebruik. Geniet die lewe. Elke oomblik. Ons is geseend.
No comments:
Post a Comment