Monday, December 5, 2011

Dag 12: 26 November 2011: Virginia lughawe tot Umhlanga

Na ‘n week van ononderbroke reen ly ons erg aan cabin fever.  Ons het nodig om uit te kom en te beweeg en son te kry.  Ons slaap lekker laat Saterdag en bel toe ons vriende om te vra of hulle vandag kan gaan stap.  Hulle is ongelukkig besig, maar ons het nodig om te gaan.  Dit reën nie, en daar is stukkies blou lug, maar ook baie wolke. 
Ons ry in twee karre na Umhlanga; los die een naby die vuurtoring en ry suid.  Die tweede kar los ons in ‘n parkeereterrein met baie potholes langs die Virginia lughawe.  Ons was nog nooit hier nie, en dis interessant om die lughawe te sien.  Daar is baie klein helikoptertjies.
Die strand was lank en reguit, niks rotse, niks riviere, niks besonder opwindend nie.  Tiaan het lank in die water gespeel, Arnold het amper onophoudelik met sy pa gesels en ma het na die mooi huise van die ryk mense gekyk.  Maar dit was baie lekker.  Dit was heerlik om uit die huis te wees en son op jou te voel.  Omtrent halfpad het Arnold gekla dat sy maag seer is.  Ons het nie eintlik geweet wat ons daaraan kan doen nie en het toe gesê ons kan bietjie rus en hy kan lê.  En toe lê ons almal op die lekker warm strand en rus.  Ons eerste middagslapie terwyl ons stap.  Dit was regitg baie lekker. 
Ons eindig by Umhlanga, langs die vuurtoring.  Tiaan swem bietjie.  Die res van ons is nie eintlik lus daarvoor nie.  Die see by Umhlanga is nou nie eintlik die lekkerste swemsee nie.  Ons sit so bietjie rond en wag tot hy klaar geswem het.  En toe stap ons kar toe en gaan haal die ander kar.  Wat ‘n lekker, lekker dag.
Behalwe vir die stukkie reg by die vuurtoring by Umhlanga was ons nog nooit op die stukkies strand nie – Umhlanga Rocks en Umhloti. 
Statistiek:  Afstand gestap: 6.2 km
Tyd gestap:  11:18-3:15; sluit swemtyd in; 3 ½ uur
Afstand gery:  50 km
Middagslapies:  1
Durban se stad in die verte

Die lekker lekker middagslapie; geneem deur die een wat nie geslaap het nie

Umhlanga vuurtoring

Swemmer aan die einde

Monday, November 28, 2011

Dag 11: 30 Oktober 2011; Balito tot verby Zimbali

Die manne stap alleen!

Met beide vroue nie in Durban nie, het die manne besluit dit is 'n uitstekende kans om bietjie te gaan stap.  Ons wou graag aan onsself, ons kinders maar veral ons vroue bewys dat ons ook verantwoordelik kan wees.  Die Sondagmiddag stap het maar 'n moeilike begin gehad.  Net omdat vrouens nie in Durban is nie, beteken nie dat hulle jou nie rondjaag om goed aan te ry nie.  Dit het gelyk of ons moontlik eers baie laat sou begin. Tussen kerkfeeste en etes en internetkaarte vir vrouens rondry het ons gelukkig wel aan die stap gekom.

Op pad na Ballito het een kind die opmerking gemaak: 'If it rains we should LIMIT the walking!' Let wel, nie stop of nie doen nie, maar beperk!   Toe ons by die suidelikste punt van Ballito uit die kar klim was daar inderdaad reen in die lug.  Ons sien nog 'n parkeerplek omtrent 100 m verder en besluit om net tot daar te stap en dan te besluit of ons voortgaan.  Die oupa wat die aanryer vir die dag was ry toe daarheen en ons stap in baie ligte reen tot daar. Een van die kinders besluit hy het genoeg gehad na 300 m en die res gaan aan.  100 m verder hou dit op met reen en ons stap baie lekker verder.

Die stap is rustig, en ongejaag. Ons rus heelwat, maar nie lank nie. Daar word baie lekkers geëet om die bloedsuiker hoog te hou! Elke kind het sy eie sakkie. Comrades pa stap baie mooi saam met sy dogter en pas haar mooi op.  Ons pa's het besluit ons wil nie die kinders opstandig maak of enige rebellies hê nie, so die stap word kort gehou.

Statistiek:
Afstand 3.8 Km
Tyd 2 ure
Kinder seergekry/dood/verloor: 0
Klere verloor: 0
Rebellies: 0
Duidelike bewys dat die vaders ook verantwoordelik kan wees: 1
Foto’s geneem: 0  (Die ma’s was nie daar om ons te herinner aan foto’s neem nie)

Wednesday, October 26, 2011

Dag 10, 3 Oktober 2011, Red Hill Nature reserve tot Amatikulu riviermond

Vandag is die laaste dag van ons kort stap vakansie.  Die weer lyk nie baie goed toe ons opstaan nie.  Erg reënerig.  Met die kennis van hindsight moes ons seker die dag in die oulike games room deurgebring het. 
Ons ry na die plek gister geidentifiseer as die naaste punt aan die see.  Daar het egter baie meer reen geval of minder son geskyn as die vorige dag wat ons gery het.  Ons gly baie rof op een plek, maar kom gelukkig daaruit met die twee pa’s wat soos bobejane op die agterkant van die bakkie op en af hop.  Dit help glo.
Ons stap 900 m deur die bosr na die strand, daar is ‘n duidelike paadjie.  Die pad is reg by die huisie van ‘n natuurbewaarder.  Die plan was om omtrent 6 km van daar te stap terug na die kampeerterrein en ons lekker warm storte.  Toe ons egter op die strand kom, waai daar ‘n redelike sterk wind in die verkeerde rigting.  Noord is die pad 9 km lank, dus nie soveel verder nie.  Die son skyn ook op daardie oomblik.  Ons besluit toe dat dit soveel makliker sal wees om saam met die wind te stap as om teen die wind te stap en neem die besluit om Noord ipv Suid te stap.  Die Seconder word gebel en van die nuwe plan vertel.  Omdat ons nou verder moet stap, moedig ons die kinders aan om vinniger te stap.  Ons stap vandag vreeslik vinnig.  Ons doen die eerste uur 2.5 km, toe 3,5 in ‘n uur en toe weer 3.5 in ‘n uur.
Ons het nie baie ver gestap nie, toe die son verdwyn en die reën begin.  Dit reën nogal.  Hard.  Ons is gou gou sopnat.  Die helfte van ons het goeie reënsakkies en die res het warm baadjies en drymacs.  Die kleinste dogtertjie is yskoud en ons besluit ons sal moet vinnig stap om haar warm te hou en haar uit die koue en reën te kry.  Gister het die reën heeldag gekom en gegaan, maar vandag reën dit amper net die hele tyd.  Ons het baie kos en water by ons, maar dis nie lekker om in die reën te staan en eet nie en ook koud, so ons stap eerder as eet.
Dit is ‘n ongelooflike vervelige stuk pad.  Daar is niks anders as net sand en see nie.  Daar is heelwat krappies en ons sien selfs strandlopertjies.  Die reën was sleg en ongemaklik en almal effe koud in die wind toe ons natgereën was, maar ek dink die pad sou baie erger gewees het as die son geskyn het.  Hier kan die son mens lelik bykom. 
Na omtrent 10 km op die strand kom ons by die Nyoni rivier net voor dit die Amatikulu rivier invloei.  Die idee was om die boot by die kar te gaan haal en deur die rivier te roei, maar ons is koud en nat en lus vir klaarkry en ons waad liewer almal deur die rivier; wat warmer is as die lug.  Dit is nie baie diep nie, omtrent tot by ons middels, oop water, met modder slik onder.  Die twee kleintjies word deur hulle pa’s oorgehelp.  Die een ry op die drybag oor saam met haar pa en die ander een word op sy pa se rug oorgedra - kurkdroog.  Die een pa kom weer terug na die een kind oor is en abba sy seun ook halfpad deur.  Die ma’s waad sommer net op hulle eie deur.  Die water was nie veel kouer as wat ons reeds was nie. 
Van daar is dit nog omtrent 2 km se stap na die piekniekplek waar die kar vir ons wag.  Ons uitstekende seconder wag reeds vir ons.  Ons trek droog aan en klim in die warm kar.  Almal ontdooi redelik vinnig.  Ons stop vir hamburgers en chips voor ons by die kampterrein kom.
Ons is in die versoeking om huis toe te ry ipv om nog ‘n nag te slaap.  Almal is koud en nat, van ons beddegoed is nat en ons is almal hartlik siek vir modder en reën en water teen die tyd.  Terwyl die kinders in lekker warm baddens is, onderhandel die grootmense met die kampterrein se eienaars en ons kry ‘n pas ontruimde groot ruim huis met plek vir 10 mense vir omtrent dieselfde prys as wat ons vir die twee kampplekke sou moes betaal.  Toe slaap ons maar nog die nag.  Ons braai lekker, kry alles wat moet droog kom droog oor die rivier.  Die volgende oggend speel ons (in Sonskyn) met die kinders en ry laatoggend huis toe. 
End goed, alles goed?
Aan die begin toe ons nog almal droog was

Die laaste duin voor ons op die strand kom

Verlate strand

Hier speel die kinders op die strand terwyl die grootmense wonder of ons Noord of Suid moet stap.  En dis al die fotos wat ons het.  Ek wou nie in die gietende reen my kamera uithaal nie en het dus geen fotos die res van die dag geneem nie.

Sunday, October 16, 2011

Wat Dag 10 moes wees: Tugela Mond, 2 Oktober 2011

Party goed werk nie heeltemal uit soos dit beplan is nie.  Die plan was om baie vroeg in die oggend na ‘n punt omtrent 6 km van Tugela mond te ry, die bote daar te water te laat en dan in die Nyoni rivier af te roei tot by Amatikulu rivier mond waar ons weer opgelaai word.  Klink lekker en maklik.  Een van die attraksies van die plan was ook dat die kinders in die bote kan sit en nie hoef te stap nie.
Die realiteit lyk soos volg.  Ons spandeer meer as ‘n uur in die oggend aan die bote.  Die een opblaasboot het twee groot gate wat muise in die stoorplek in die boot gevreet het.  Regtige groot gate.  Die roeier het die gate die vorige aand probeer heelmaak, maar dit lek steeds.  Ons los toe maar die een boot by die huis en ry om die begin van die rivier te gaan soek.  Ons het ‘n baie goeie kaart van die omgewing wat klein paadjies aandui.  Ons ry meer as ‘n uur lank in die baie plattelandse area op baie modderige paaie rond sonder om ‘n plek te kry waar ons kan see toe stap nie.  Die area is pragtig, met redelike paaie, as dit nie nat was nie, en hutte hier en daar op die heuwels. 
Na omtrent ‘n uur gee ons op, ry terug kamp toe.  Die vroue en kinders bly by die kamp terwyl die mans weer ry en die pad soek.  Hulle is op die ou einde 5 ure weg.  Die vroue en kinders speel, ry fiets, swem, speel skaak, speel boardgames, speel op die strand en duine en stap omtrent 500 m op die strand na die Mond en terug.  Dit is heeldag bewolk en reënerig.  Die reën kom en gaan. 

Die mans wou baie graag gaan kyk of ons die pad kan kry uit Amatikulu.  Daar aangekom ry ons so ver as moontlik suid in die park.  Ons probeer op twee plekke stap, die eerste een loop ons nie ver nie maar besluit dat die tweede plek nog beter gaan werk.  Daar is ‘n ou pad wat toegemaak is.  Ons stap tot bo-op die eerste rant met die pad langs en dit gaan heel maklik. Vyftig meter later loop die pad egter dood en ons begin boendoe-bash na die see se kant toe.  Ons kom op ‘n klein stroompie af wat pragtig is en ons bewonder die natuurskoon en verlatenheid.  Anderkant die stroom val ons egter vas en besluit ons sal NOOIT ‘n boot of ‘n kind hier deurkry nie.

Amatikulu word laat vaar as ‘n moontlike plan vir die volgende dag of enige dag wat kinders of bote insluit!  Ons keer terug na die kaart en die pad deur die platteland.  Na omtrent 30 minute kry ons onsself op die kaart.  Die comerades pa verbaas ons almal om so goed kaart te lees.  Ons verdwaal nie een keer nie!  Ons eindig by die natuurbewaarder van Red Hill Natuurreservaat, ‘n baie vriendelike man wat met groot geduld al ons vrae antwoord, al die paaie en riviere wys en selfs raad gee oor bote en Amatikulu.
Ons is opgewonde om die volgende dag te stap, ons voel ons sal maklik en vinnig by die pad kan kom wat ons na die strand sal neem.  Ons drywer bestuur die hele tyd en is goed met ‘n kar wat nie syne is nie.  Die paaie is nie baie nat of glad nie en ons voel heel gemaklik.

Ons het toe nie vandag gestap nie, maar belangrike beplanning vir more gedoen.  Ons braai lekker, kuier lekker, lag verskriklik vir die kinders se lawwe konsert.  Hulle het ‘n radio, wat witgeraas maak en ‘n aabieder wat met ‘n swaar aksent praat.  Regtig snaaks.  Dit eindig met die radio wat ‘n weervoorspelling maak vir more.  Hy voorspel dat hierdie plek nie reën gaan kry nie, bedoelende binne die tent waar daar ‘n dak is.  Die ander kinders dink dis vreeslik snaaks en kan amper nie ophou lag nie.  Dit reën weer deur die nag.  Ons is nou al effe moeg vir klam wees.

(Hoeveel keer het jy die woord "reen" getel??)

Kilometers gery:  Te veel
Kilometers gestap:  Te min

Pa braai vleis.  Baie lekker.

Die kampterrein by Tugela Mond
Die kampterrein:  http://www.tugelamouth.co.za/

Thursday, October 6, 2011

Dag 9: 1 Oktober 2011; Zinkwazi tot Tugela Mond

Ons gaan kamp vir die naweek !!
Die plan vir die naweek is lank terug uitgedink.  Ons het omtrent ‘n jaar gelede by die Amatikulu natuurreservaat gaan kamp.  Daar het ons uitgevind dat die een unieke aspek van die reservaat is dat daar vir omtrent 10 km ‘n rivier parallel met die see vloei.  Tussen die rivieren die strand is net ‘n duin.  Na ons ‘n paar km gestap het, het ons ook tot die gevolgtrekking gekom dat die stappery maar baie eentonig kan raak.  Soms is die see pragtig, veral as daar rotse is, maar soms lyk ‘n lang reguit sandstrand maar net soos al die ander lang reguit sandstrande.  Die idee is dus om hierdie stukkie te roei op die rivier i.p.v om op die strand te stap.  Die naweek dus bedoel as iets was so effens anders en afwisseling sal wees.  Ons spaar die stap vir die skoolvakansie wanneer ons ‘n paar dae na mekaar kan stap en die hele stuk tussen die Tugela rivier en die Matikulu rivier kan doen.  Ons weet dit is September/Oktober: reënseisoen in die wêreld, maar dis wanneer die skoolvakansie is en daar is nie veel wat ons daaromtrent kan doen nie. 
Ons het nogal baie uitgesien na die naweek en om weer ‘n slag te stap.  Ons het vreeslik voorberei, stapkos gekoop en koekies gebak.  Dit reën baie Vrydagaand terwyl ons inpak om te gaan kamp. As ons nie deur die week so baie moeite gedoen het om koekies te bak en goed reg te kry nie, sou ons sommer net besluit het om nie te gaan nie.  Wie wil nou in die reën kamp en stap??

Saterdagoggend staan ons vroeg op en kom 6:10 bymekaar op die N2. Ons ry Tugela Mond toe, soek ‘n kampplek, sorteer die stapgoed uit, blaas die boot op, en vat baie lank. Ons slaan nie tent op nie. Toe ry ons Zinkwazi toe en begin daar in die parkeerterrein stap.  Ons is gelukkig hierdie naweek om ‘n bestuurder (seconder) te hê wat ons aflaai en weer kom oplaai by die eindpunt.  Dit maak die lewe oneindig makliker.

Ons begin 10:00 stap. Ons stap besonder voorspoedig. 4 ure later is ons 9 km verder by die Tugela mond.  Vandag se stap was heel mooi.  Die sand was hard van reën die vorige aand en ons het dus baie lekker gestap. Daar is n mooi, groen woud reg langs die strand met knopperige bome, dit lyk soos n toorbos en voëltjies sing. Tiaan sê ons het ‘n woud, ‘n woestyn en ‘n oseaan. Dit is die verstommende ding van die KwaZulu Natalse kus dat bos en see so naby aan mekaar kan wees. 
Ons jongste dogtertjie se voet is seer halfpad deur die stap.  Sy trek ander skoene aan en met baie aanmoediging van die grootmense stap sy verder.  Dit lyk of die tekkies beter werk as die stapsandale waarmee sy begin het.  Ons is trots op jou.  Twee dae later lyk dit darem nie of die voet pla nie.
Ons kom baie vroëer by die riviermond as wat ons die seconder vertel het ons sou.  Die idee is om met die boot oor te roei.  Die Tugela is nogal wyd en dieperig.  Ons bel die seconder en wag seker omtrent ‘n halfuur vir hom om op te daag.  Die twee mans swem en waad deur die rivier en gaan kry die boot.  Hulle roei toe na ons en ons ry in twee sessies oor die rivier.  Die kinders geniet dit baie en dink dit was snaaks om aan die boot vas te hou en sommer net saam te swem.  Twee van die kinders kon dus seker maar net sowel sonder ‘n boot deurgeswem het.  Ons kon darem al die rugsakke droog oor die rivier kry. 
Dit was’n baie lekker dag, mooi en opwindend en die bootry aan die einde het net genoeg ekstra opwinding verskaf.  Die een gesin ry met die boot terug kamp toe en die ander gesin stap nog omtrent 1.6 km om die mond na die kampterrein.  Ons kom gelyk by die kampterrein aan.  Die wind waai kwaai en dis stukkie van die riviermond tot by die kamp is niks lekker nie.  Sommer net ‘n ploeg teen die wind.  Dis darem kort.  Die laaste stukkie doen ons in die teerpad. 
Die grootmense slaan tente op en maak die kampplek reg.  Die kinders speel in die kampterrien rond en ry fiets.  Dit lyk nie eintlik asof hulle moeg gestap is nie.  Hulle het nog baie energie.  Ons braai vleis en is almal 8 uur in die bed.  Die weer het die hele dag mooi saamgespeel nadat dit so reënerig gelyk het die vorige aand.  Ons het in lekker weer gestap.  Nadat ons klaar geëet het, en in die bed was reën dit.  Baie.  Ons een matras word nat omdat ons die een tenttou nie goed gespan het nie en water deur die tent gesypel het.  Ons vind dit ongelukkig effe te laat uit.  Ons vriende se woonwa lek bokant een bed en hulle het dus ook ‘n nat matras en die seconder slaap in die sytent van die woonwa, waar water ook inloop waar die woonwa en die tent bymekaar kom.  Sy beddegoed is ook nat.  Ughhh.  Ons word dus so effe nat wakker.

Afstand gery:  90 km
Afstand gestap:  9 km as hele groep en nog 1.60 km deur die een helfte
Riviere geskruis:  1
Bote geroei:  1
(Toe ek die stukkie vinnig vir spelfoute deurlees sien ek hoeveel keer ek die woord reën gebruik het.  Dis lesers, as ek julle verveel (en veral met die volgende inskrywing), drink ‘n sopie elke keer as ek die woord “reën” gebruik.)
Een idilliese gesin

Die kinders op 'n tak

Ons maak seegras bymekaar.  My man sê dat hy nog nooit sulke seegras gesien het nie.

Middagete op 'n rots
Die knopperige, spokerige woud langs die strand
Die Tugela Mond is daar iewers voor
Die vuurtoring by Tugela Mond.  Ons is oor die rivier met die boot.




Sunday, September 25, 2011

Dag 8, Ushaka

Ons is vandag see toe om 'n bietjie te gaan swem.  Ons was heeltemal te lank laas in die see.  Ons geniet die strand voor Ushaka, Vetch's Pier.  Daar is lekker parkering by Ushaka, winkels naby vir roomys, en 'n redelike stil strand, met beskerming van die hawe, so die branders is kleiner.  Lekker vir die kinders.

Toe ons uit die kar klim, waai 'n wilde woeste wind.  Ons los toe maar die snorkelgoed in die kar.  En toe ons op die strand kom is daar meer bloublasies as waterdruppels in die see.  Hulle het sommer sulke strepe op die strand gele.  Ons wil toe nie swem nie, maar ons is nou op die strand.  Toe stap ons maar.  Van die kaai voor Ushaka tot teen die hawemuur, en terug.
Dit was 700 m soontoe en 700 m terug.  Ons kan dus nie eers 'n kilometer afmerk nie.
Dit was net ons gesin van 4.  Daar is ook geen foto's nie, aangesien ons eintlik net beplan het om te swem en die kamera by die huis gebly het.  Heel suid teen die hawemuur het mens 'n mooi foto geleentheid van Durban se Goue Myl, met die Moses Mabhida stadion heel regs.  Ek is jammer ek het nie 'n kamera of eers 'n selfoon daar gehad nie.  Ons gaan skuil toe vir die wilde wind in die Moyo restaurant op die kaai.  Het 'n heerlike cappucino in die funky restaurant.

Ons was stil met die stappery, maar beplan groot dinge vir die skoolvakansie.

Vandag se afstand:  700 m
'n Foto wat in 2007 geneem is by Ushaka se kaai.  Vandag het baie anders gelyk.  Die strand was verlate, dit was winderig en moenie die hope bloublasies vergeet nie.  Daar is ook nou 'n groot sokkerstadium wat nie op die foto is nie.  Ons eht ongelukkig nie vandag 'n foto geneem nie.
Tyd:  Geen idee, maar seker 'n halfuur of so.

Monday, September 5, 2011

Dag 7: 21 Augustus, Tinley Manor Beach tot Sheffield Beach

Ons ontmoet mekaar 1:15 op die N2 en ry noord.  Vandag bestaan die geselskap uit 5 volwassenes en 5 kinders.  Dis die gewone 8, plus een oupa en nefie.   Ons begin 1:40 stap by Tinley Manor.  Die plan was om 4 km suid te stap en by die gestrande skip te eindig (sien meer oor die skip hier.)  Ons het ook vandag die luukse van ‘n oplaai en aflaai voertuig deur die familie in Ballito.  Dit maak regtig alles makliker.  Na omtrent  een km se stap, stap ons deur Tinley Manor.  Oeps !  Ons stap dus 1 km meer as beplan.  Daar is hoë walle sand waarteen die seuns speel.  Hulle kan net nie ‘n afgly teen ‘n wal weerstaan nie, en hierdie walle is besonder goed.
En toe kom ons te staan voor ‘n onkruisbare rivier.  In elk geval onkruisbaar as jy nie wil nat word  nie.  Verskeie opsies word ondersoek.  Terwyl die grootmense almal vir die rivier staar, speel die kleinste seuns in die vinnig vloeiende rivier water net voor dit in die see spoel.  Dit word vinnig gestop.  ‘n Roete deur die see word ondersoek.  Een van die pa’s se pa (wat vir die eerste keer saam met ons stap, maar ‘n gesoute stapper is) kry ‘n gangbare roete deur.  Die water kom tot bo ons knieë, maar onder ons middels en is nie so sterk dat dit jou omspoel nie.  Ons kom maklik en dramaloos deur.  Ons het ‘n klomp selfone en ‘n kamera en kar immobiliseerders by ons.  Miskien moet ons in die toekoms waterdigte houers kry om ons elektronika droog te hou.  Die kinders is oor deur een-een ‘n volwassene se hand vas te hou.  Ons pa moes twee maal deurgaan.  Een keer met die duur elektronika en toe met die rugsak en hond.  Die whoozz kan, of wil nie, swem nie. 
Ons sien die skip van ver.  Ons stop ‘n paar keer vir padkos.  Die familie in Ballito het padkos ingepak.  Die ma wat ingepak het, het nie saamgestap nie en mens kan sien dat sy nie beplan het om te dra wat sy ingepak het nie.  Daar is broodjies en fikkadelle en bottels en bottels koeldrank. Heerlik, maar swaar en seker nie regtig nodig nie, aangesien ons net na middagete gaan stap het.  Ons kla nie, dit was heerlik. Dankie !!
My seuntjie hardloop stukke, val dan plat neer en lê ‘n ruk voor hy weer verder hardloop.  Ek kyk ‘n rukkie na hom en gaan toe soontoe om hom aan te jaag.  Sy storie is toe dat hy agter ‘n blaar aanhardloop.  As die blaar stil lê, dan lê hy en as die wind die blaar gryp dan hardloop hy.  Daar is redelik baie wind, gelukkig van agter.  Hy stap stukke vinniger toe sy ma die die blaar optel en in die wind gooi elke keer as die blaar gaan lê.  Die goed wat ‘n 7-jarige brein besig hou.
Uiteindelik kom ons noord van die gestrande Phoenix uit.  Die foto’s uit die noorde lyk maar baie soos die foto’s uit die suide.  Ons kry die wag oortuig om ons deur die barrikade te laat stap.  Hy laat ons nie na die oorkant deurstap nie, maar laat ons net tot by die naaste stel trappe stap waar ons opklim na die pad.  Ons stap baie ver, met ‘n redelike ompad na die polisie barrikade waar ons oplaai voertuig wag.  Dis Sondagmiddag en daar is baie mense op die paaie.  Sowaar ‘n gewilde Sondagmiddag aktiwiteit. 
Ons kom net na 5 by die familise se huis, waar almal besig is om teen verstommende spoed kos te maak sodat vas gebreek kan word teen 5:37.  Daar is een Moslem familielid en dit is Ramadan.  Ons eet almal saam, ‘n lekker Sondag middag ete met poeding.  Na ete jaag ons terug huis toe.  Dis ‘n laat Sondagaand vir mense wat more moet skool toe gaan. 

Dit was ‘n lekker dag se stap op ‘n mooi plek.  Ons het dit baie geniet en almal maklik gestap.  Ballito is tot dusver die mooiste deel van die kus.  Stappe soos vandag maak op vir verveliges soos die een op Dag 4.
Naskrif:  Sondagaand begin ons hond hoes.  Die vreemdste geluid wat klink of hy verwurg word.  G’n mens kan daardeur slaap nie.  Die veearts diagnoseer hom met “Kennel Cough” en na baie geld maak antibiotika weer alles reg.  Hy het waarskynlik by ‘n ander hond op die strand aangesteek.  Tel dit nou as 2 doktersbesoeke gekoppel aan stap?
Ons spring van die walle af

'n Rivier voor ons, wat nou?

Die rivier waar ons moet deur

Kan ons seelangs deur die rivier kom?

Eerste verspieder amper deur die rivier

Almal veilig en redelik droog aan die ander kant

Stap !

Skip le net om die draai

Mooi rotsformasies

Die Phoenix bo van die pad af

Skip op die rotse

Snaaksie

Monday, August 29, 2011

Dag 6; 8 Augustus: Southport tot Umzumbe (of Noord van Port Shepstone tot suid van Hibberdene)

Southport tot Umzumbe
Ons begin weer 9 uur stap.  Die manne het laat geslaap.  Dit sê baie van ons organisasie dat ons amper ewe laat begin stap as ons net 10 km ver slaap as wanneer ons meer as 100 km moet ry.  Ons begin presies stap waar ons gister opgehou het, om die waarheid te sê ons spandeer heelwat tyd om terug te stap tot by die rotse waar die kinders gisteraand ‘n “bed” ontdek het sodat hulle weer daarin kan speel.  Ek het gedink dit sou ok wees om sommer net aan die ander kant van die rivier te begin.  Maw meer as ‘n halfuur na ons begin het is ons waar ons wou begin. 
Vandag se stap is effe harder werk as gister.  Na omtrent 3 km is ma reg om op te gee.  Ma besluit ons moet darem ten minste net 6 km stap en probeer net uithou vir nog 3 km.  Ons is seker maar effe moeg na gister, is die tweede dag van ‘n staptoer altyd harder werk?
Hier is baie getypoele om in te speel.  Die strande is ook stller as wat hulle gister was.  Die seuns swem in ‘n getypoel, maar waad ook maar effe versigtig.  Dis net te koud om regtig te swem.  Hier is ontelbaar klein riviertjies wat in die see uitloop.  By die meeste word net jou voete nat, soms kan jy sommer net oor dit spring en twee kan ons droog oor rotse kruis, as dit nie vir die rotse was nie sou ons redelik nat geword het. 
Die seuns ontdek swart pitte van een of ander vrug waarmee hulle speel.  Dis klein harde balletjies en hier is baie van hulle.  ‘n Omie op die strand vertel dat mens hulle kan oopsny en die binnekant is wit en hard en hulle het as kinders goed daaruit gekerf en gemaak of dit ivoor is.  Die seuns speel in ‘n riviertjie met die balletjies.  Gooi hulle in en kyk hoe vinnig hulle spoel.  Hulle hardloop agter die balle in die rivier aan.  Dit nadat ons moeite gedoen het om droog oor die rivier te kom.
Ons stap vreeslik stadig en doen omtrent ‘n km per uur.  Ons kry ‘n manier om te vorder.  Ons kies ‘n baken iewers voor op die strand, vat elkeen ‘n kind se hand en stap vinnig sonder om links of regs af te draai tot ons by die baken kom.  Op die manier doen ons omtrent 800 m in 15 min.  Na die spoedstap karring ons minder aan die kinders en laat hulle toe om meer te speel.  Hulle kry oral goed wat hulle aandag aftrek en hulle tot stilstand bring.  Ons stap nie so stadig as ons stap nie, ons stop net so baie om te speel, swem, na goed te kyk, in riviertjies op te stap.
Ons het die twee dae nie baie water saamgedra nie, want ons is die heeltyd in die beskawing en het gedink ons kan sommer maklik by toilette volmaak.  Toe ons water wel begin opraak kom ons agter dat die toilette en krane ook nie so algemeen is nie.  Ons kry darem nuwe water voor alles op is.  Ons het een plek langs die see heerlike roomys gekoop en daar op die strand geëet. 
My jongste seun speel met ‘n plastieksak.  Die wind ruk die sak uit sy hand en dan hardloop hy meters, seker maklik 30 plus terug in die rigting vanwaar ons gekom het.  Net voor dit moes ek baie hard aan hom karring om hom te laat stap en ek wil nou sommer huil as ek sien hoe hy nie een keer nie, nie twee keer nie, maar baie kere sy energie mors deur heen en weer te hardloop.  Hoekom is dit lekker om heen en weer te hardloop, maar nie lekker om in een rigting te stap nie ?
Ons het nooit nodig om op rotse te stap nie, maar hier is baie rotse.  Dit is goed, want dit is mooi om na te kyk en gee die kinders iets om te doen.  Hulle stap baie beter met rotse as daarsonder.
Ons stap by ‘n ou geroesde ding in die see verby.  Dit het ronde ratte en lyk vir my soos ‘n ou trein, maar ons het geen idee wat dit is.  Dis naby ‘n riviermond waar bote te water gelaat word.  Het dit dalk iets daarmee te doen?  Dit lyk baie oud en of dit al lank hier in die water lê. 
Omdat ons energie minder is vandag oortuig ons onsself dat ons vroeër moet eindig.  Ons het een goeie rede, ons is nie lus om in die donker te sukkel om by die kar terug te kom nie.  Ons tweede, minder goeie rede is dat ons nog by ‘n winkel moet uitkom om aandete te koop.  Ons plan was oorspronklik om vanaand weer terug te ry huis toe, maar ons het gisteraand so lekker gebraai dat ons dit weer wil doen.  Ons het dus vanoggend gereel om nog ‘n aand oor te slaap, maar ons het nie wyn en vleis vir nog ‘n aand ingepak nie.  Ons hou dus 3:30 op met stap met die plan om teen 5 uur die kar en kos te hê. 
Ons eindig by ‘n massiewe klomp rotse.  Daar is enorme rotspoele.  Die plan was dat ma en seuns nog 1 km moet stap en dan by ‘n parkeerterrein vir pa moet wag.  Die seuns geniet egter die poele so baie dat ma moed opgee en besluit dis die einde van vandag se stap.  Nou geniet ons net die see.  Daar is baie enemenies en ander goed wat suig in die water.  Ek wens my marine biologie en geologie was beter.  Die seuns sit hulle hande op die goed wat suig en dan suig hulle aan jou hand vas en maak toe en as jy jou hand oplig sit jou handafdruk teen die rots waar hulle toegemaak het.  Hulle stap in die water rond, kry slakke en krappe en speel.  Dis lekker langs die water.
Pa is besonder gelukkig.  Hy moet ‘n stywe bult uitstap tot by die wagplek vir die taxi.  Hy wag saam met ‘n jong swart meisie met ‘n baba.  Sy sê dat mens gewoonlik die tyd van die dag ‘n uur wag. Daar ry 3 taxis verby wat so vol is dat hulle nie eers stop nie.  (En dit sê baie as ‘n taxi te vol is om jou op te laai.)  Terwyl hulle wag stop daar ‘n vrou wat pa ‘n geleentheid aanbied.  Sy laai hom en die meisie naby die kar af.  Baie nader as gister se taxi.  Pa is dus redelik vinnig, teen 4 uur, terug by ma en kinders op die rotse.  Ons speel nog bietjie op wat Kellerman rocks genoem word.
Gister, toe ons van Durban af gery het, het ons by ‘n redelike groot spar met ‘n special op ribbetjies verbygery.  Dis in Hibberdene.  Ons ry nou omtrent 10 km tot daar.  Die spar is baie besig, maar oop en ons koop slaai, spare ribs en ‘n bottel wyn.  Hulle het nie ‘n Baronne nie, maar wel ‘n Duet van Nederburg.  Net so lekker.  Ons braai weer vleis.  Die storte is heerlik en ons val almal lekker vol, tevrede en moeg in die bed. 

Die volgende oggend word ons wakker, eet ontbyt en ry terug na Durban.  Dis ‘n vakansiedag, maar ons het nog ‘n skooltaak om klaar te maak en mure om te verf by die huis voor die werkweek begin.  Ons kan regtig nie nog ‘n dag stap en vakansie hou nie.
Ons het amper 20 km gestap tussen die twee dae.  Glad nie te sleg nie.
Begin van die dag.  Ons het darem 'n sin vir humor

Die rotse waar ons gister geeindig het

Die rotse waar ons gister geeindig het



Speel met ons pitjies in die water

Groot rots, groter brander

Pa en seuns doen "Powerwalking".  Al manier hoe ons iewers gekom het

Wat is dit?
Kellerman Rocks:  Einde van die staptog


Eendjies, eendjies daar in 'n ry

Jonathan Livingston Seagul

Hulle lyk sommer soos honger kinders wat hulle kos in die buitelug verdien het

Meeste van die goed wat twee seuns oor twee dae bymekaarmaak

Besig om handafdrukke te maak


Statistiek
Tyd: 9:00 tot 3:30; 6 uur en 30 min
Afstand: 8.7
Spoed: 1.42 km/uur
Aantal stappers: 4
Stroompies oorgesteek:  Ten minste 5; kleinerig
Aantal nagte oorgeslaap:  2
Afstand gery:  20 km