Friday, August 9, 2013

Dag 24: 15 Junie 2013: Bluff by ou walvisstasie


Ons het uiteindelik weer gaan stap, na ‘n baie lang stilte.  Die somer was baie lank en warm en ons het besluit om die stappery te bere vir die kouer winter.  Die kinders word ook groter en ons het baie meer goed wat oor naweke moet gebeur.  Dit raak dus al moeiliker om die tyd te kry.
 
Die pad wat ons gestap het, bo van waar ons die kar gelos het.
 
Dit was ‘n lekker lang naweek en ons kies die Saterdag van die langnaweek om te gaan stap.  Ons wonder al baie lank hoe ons in die militere basis in die Bluff gaan uitkom om te stap.  Die probleem is nie die stappery nie, maar hoe om toegelaat te word om in te ry (deur die toegangbeheerde hek) en ‘n kar by die einde te los.
 
Aan die agterkant van die sementblok staan:  Nude beach
 
Ons los toe die probleem op deur te besluit ons stap sommer die een stukkie heen en weer, dan het ons nie nodig om in die militêre basis te kom nie.  Ons los die kar naby die ingang van die militere basis in ‘n residensiële straat waar daar ‘n plek is om teen die baie styl Bluff, deur die bosse (woud) af te klim tot by die see.
 
Daar staan ‘n ou visser aan die bokant wat raad gee.  Hy sê dat mens die paadjie net een keer afklouter en volgende keer parkeer jy liewer die 2 km verder waar jy tot by die see kan ry.  Hy praat ook van mambas aan die onderkant.  Dis darem winter, nie mamba tyd nie, so ons is dapper.   Maar mens se hare staan maar regop aan die einde wat jy deur die bosse stap tot by die see.

Die dooie trappe

Die pad af is inderdaad erg.  Dis baie styl, en baie ruig.  Daar was vroeër  sementtrappe gebou, maar die het inmekaargestort en dis nie eintlik moontlik om op die trappe te loop nie.  Ons is meer dikwels langs die trappe as op die trappe.  Gelukkig sorg dit dat die ruigtes darem so effens oopmaak.  Ek wil nou nie oordryf nie, maar dit laat mens dink aan foto's van ou tempels wat deur die oerwoud oorgeneem is.  Arnold sê dat die trappe dood is. 


Naby die einde, waar die strand draai en die hawemond voor jou is
Ons kom onder by die see en begin stap, van die Bluff af na die ou walvisstasie.  Ons het al baie van die ou walvisstasie gehoor vandat ons in Durban woon, maar was nog nooit daar nie.  Ons stap seelangs by die stasie verby sonder om te gaan kyk.  Ons sal op pad terug gaan loer.

Dit lyk of daar dalk mense hier op die strand woon

Net waar ons uit die bosse op die strand kom, is daar ‘n groot sement blok met die woorde “Nude Beach” daarop geverf.  Daar is nie eintlik ander mense nie, so ek sou nie kon sê of dit wel die geval is nie. 
Heining wat tot in die see loop
 
Ons stap deur twee heinings wat tot in die see gaan.  Albei is stukkend en ons stap sommer net deur.  Ons is nou in die militêre basis by die see.  Daar loop ‘n treinspoor en ‘n pad van die walvisstasie die basis in.  Daar is wel mense by die pad, iets wat soos ‘n kinderpartyjie lyk met balonne en stoele op die strand, mense wat met hulle kinders fiets ry en hier en daar iemand wat visvang.  Hulle het almal met voertuie ingekom.  Ek neem aan as jy op die militêre basis kan kom, kan jy tot hier ry en die see geniet.  Langs die walvisstasie is ook ‘n groot kompleks, aan die reuk ly ons af dat dit ‘n rioolverwerkingsaanleg is. 

Die ou walvisstasie

Heel aan die einde, draai die pad en ons is nou naby die hawe mond, maar aan die suidekant van die hawe.  Daar is ‘n redelike groot grond (eintlik gruis) pad.  Daar is ook heelwat mense.  Mense wat lyk of hulle hier langs die see woon of plak.  Daar is ‘n gehuggie met seil gebou, gasbottels (vir kook), snorkel en duik toerusting en allerhande goeters, en kaste koue bier.  Ons is nie seker of dit net ‘n plek is om koffie en bier deur die dag te drink of iemand se huis is nie.  Daar sit heelwat mense en ‘n baie kwaai hond rond.  Ons het ons hond aan ‘n halsband en die ander hond storm op ons hond af en begin baklei.   Ons kry darem sonder baie moeite die twee honde uitmekaar.  Tiaan dra altyd stokke rond wat hy langs die see optel en ek het een van die stokke in my hand gehad.  Gelukkig was die ander hond bang toe ek lyk of ek wil slaan en gee pad.
 

Ons stap oor ‘n groot stuk kaal sand tot aan die ander kant en kyk af op die hawe mond.  Daar is ‘n smallerige kanaal waar die skepe die hawe in en uitvaar.  Dis baie interessant om te sien hoe dit hier lyk.  Ons kom so baie aan die ander kant van die hawemuur. Maar het absoluut geen idee wat hier is nie.  Daar is ook ‘n pragtige rotspoel, reg voor die mense se huis (skuiling?) wat wonderlike snorkelplek is.  Dis redelik groot, tussen rotse en lyk lekker beskut. 
 

En toe moet ons die hele pad terug stap.  Dis selde wat ons heen en weer moet stap en dis nie baie lekker nie.  Dis baie ekstra moeite, vir niks ekstra kilos nie.  Ons stap redelik vinnig terug en stop die keer by die walvisstasie.  En was dit nou ‘n treat!

Dis ‘n baie groot plek, met baie verskillende geboue wat almal vervalle is en besig is om uitmekaar te val.  ‘n Deel daarvan is vol koeelgate en ons neem aan die weermag gebruik dit vir oefeninge.  Daar lê ook baie handgranate rond.  Die kinders is mal daaroor.  Oudste besluit dis waar hy sy verjaardagpartytjie wil hou.  Dit klink na ‘n wonderlike idee, maar is ‘n redelike logistiese oefening.  Jy moet of ‘n vriend in die weermag hê of ‘n paar kilos op die strand stap om hier te kom.
Snorkelplek naby die hawe

Een van die laaste geboue waardeur ons stap is enorm.  Die dak is weg en daar groei nou plante in die binnekant.
 
Daar is geboue met trappe wat inmekaarval, of mure wat weg is en die trappe is nou half aan die buitekant van die gebou.  Ek kan sien hoe mens ‘n fotosessie hier kan hou; troufotos of modefotos.  Ons klim en klouter ‘n ruk in die geboue rond, tot ons begin haastig raak om darem voor donker by die kar te wees.  Ek het nie baie mooi foto's nie, teen die tyd was ons effe te moeg om baie kreatief te wees.


Die ou walvisstasie word sterk aanbeveel as iets om te sien en toe doen in Durban.  As jy nie mal genoeg is om ure lank langs die strand af te stap nie, sit dit ten minste op jou lys.  Dis die moeite werd om te sien; veral as jy energieke jong seuns het wat graag ‘explore’.  Of as jy ‘n fotograaf in die gesin het wat met die kamera wil speel. 

Dis nog omtrent ‘n kilo se stap van die walvisstasie af na die opklimplek.  En die opklim is nou nie eintlik ‘n grap nie.  Ons blaas en stoom en rus en klouter teen die baie styl baie gebreekte trappe uit tot bo.  Ons is moeg; gaar; kapoet.  Ons ry huis toe, koop sommer takeaways op pad huis toe en val moeg by die huis neer.   

Dit lyk na 'n baie lekker plek om te swem en snorkel
 Volgens my pedometer het ek vandag 17293 tree gegee en 10.6 km geloop.  'n Deel daarvan was nie deel van die stappery nie.  Ons het 11:05 begin stap en 3:53 klaargemaak.

Dag 23: 24 September: Balito


O wee ! 
Ons het agter begin raak met die stappery.  Maar ons is selfs meer agter met die blog skrywery as met die stappery.
Daar is baie redes.  Dit begin al hoe moeiliker raak om te stap, ons het al die naby, maklike plekke reeds gedoen.  My man het 'n winkel oopgemaak en werk meeste naweke een dag in die winkel.  Dit maak ons stap tyd al hoe minder. 

Ons het op 24 September laas jaar (2012), 6.4 km gestap naby Ballito.  Ons het geen foto's geneem nie.  Behalwe die datum en waar ons begin het en waar ons geeindig het kan ek niks onthou van die dag se stap nie.  Ek het die volgende nota gekry:  "Stap vining en lekker en ma ry fiets terug."  Ek het so hier en daar 'n terugflits van die fietsryery, langs die M4; maar dit is al.

Vandag:  6.4 km
Totaal tot nou:  151 km

Friday, September 21, 2012

Dag 22: 16 September: Amanzimtoti



Dit het vreeslik gereen die laaste week, Saterdag het dit gesous en ons is moeg vir binne wees.  Ons besluit dus om Sondag te gaan stap, as dit nie reen nie.  Ons word inderdaad Sondag wakker met blou lug.  Ons het niks gereel of reggemaak om te gaan stap nie.  Ons is eers kerk toe, beplan om sommer daar pasteie te koop vir die stap en dit is natuurlik die een Sondag wat die kerk nie pasteie verkoop nie.  Ons gaan leen ook eers gou ‘n fiets en val so 12:00 in die pad.  Toe ons by Toti stop kom ons agter dat die wind waai, regtig baie waai.  En die wind waai teen ons soos ons wou stap.  Ons is nie lus om andersom te stap nie en besluit ons sal maar teen die wind stap.  Dom, dom, dom.  Ons het hard gewerk vandag teen die wind.  En die stukkie wat ons saam met die wind gestap het was sooooo maklik.  Ons sou soos die wind die afstand vandag kaf gedraf het, gevoel het of ons vlieg.  En die hartseer deel is, ons weet regtig eintlik beter. 

Ons sluit die fiets so half agter ‘n besigheid vas.  Dit is seker effe privaatgrond, teen ‘n heining waar die besigheid se asblikke staan, maar dit is reg langs twee parkeerplekke, en dit is oop en bereikbaar.  Dit is nie eintlik sigbaar van die straat nie, en ons hoop niemand sal die fiets sien nie.  Toe Francois daar aankom om terug te ry het die eienaar van die besigheid (wat baie toe was) die fiets ontdek, besluit dis iemand wat ‘n affair het in die woonstelle langsaan en ‘n foto van die gesteelde fiets geneem en vir die polisie gestuur.  Ons vra toe maar om verskoning en hy se hy is net bly hy het wel uitgevind wat aangaan. 

Ons parkeer omtrent 6 km verder en begin stap.  Die wind waai verskriklik en ons besef omtrent onmiddellik dat ons in die verkeerde rigting stap, maar ons is te dom om terug te gaan en die fiets en kar om te ruil.  Ons stap van 12:40 tot 3:36.  Ons is doodmoeg, ons bene is seer en selfs die seuns kla dat hulle bene pyn.  Gewoonlik kla hulle nie terwyl ons stap nie. 
Ons eindig net anderkant ‘n redelike groot rivier by Toti.  Ons het op Dag 4 tot teen die rivier gestap en eindig vandag aan die oorkant van die rivier.  Ons kruis nog twee redelike groot riviere, een deur ‘n klein draai te loop, oor ‘n sokkerveld en voetgangerbruggie en een wat ons sommer net tot by ons enkels nat word.  Ons hond is baie bang vir water en kom net deur die rivier as hy agterkom ons is almal aan die ander kant as hy.  Sy tegniek is om hard te tjank, te hardloop en te spring.  Hy beplan nie baie goed nie.  Die rivier is hy op ‘n dieperige deel deur, maar dit was smal en hy het net naby die oorkantste wal in die water geval.
Ons het nie ver gestap voor ons honger was nie.  Ons het langs die pad op ‘n klompie rotse ons hotdogs patkos geeet, wat ons 11 jarige seun vir ons heeltemal alleen gemaak en ingepak het.  Dit was doodreg en heerlik, ons kan dalk so bietjie aan die verpakking werk. 
Dit was baie baie koud.  Mens het nie eers gevoel of jy in die son was nie.  Die sterk wind was baie koud.  Ons het die heeldag met ons warm klere aan gestap en het by tye nogal koud gekry. 
Aan die einde het ma en seuns op die strand gewag terwyl pa na die fiets toe is en toe kar toe gery het.  Hy het net 24 minute fiets gery.  Arnold het ‘n sandkasteel gebou met gragte en mure om dit teen die water te beskerm.  Die hond is baie erg oor Pa en dit was vir hom baie sleg om by ons agter te bly terwyl sy gunsteling mens wegstap. 
Tiaan het ‘n stuk palmblaar opgetel en met dit soos ‘n swaard rondgestorm.  Hy het gese hy charge en in die wind ingehardloop met die swaard van hom.  Dit was ook pret om skuimbolle te jaag wat deur die wind aangejaag word.  Dit het gevoel of ons verskriklik stadig stap vandag en dit was baie harde werk so teen die wind.
Afstand:  6.2 km vandag gestap (en nog 2.6 km voor Natalia waar ons al baie gestap het tel ook)
Tyd:  3 ure
Spoed:  2 km/uur
Riviere:  4

Sunday, September 16, 2012

Dag 21: Umkomaas, 10 Augustus 2012

Dit lyk my die helfte van Durban het vrouedag berge toe gery om sneeu te kyk en die ander helfte was op die lughawe om Chad le Clos terug te verwelkom.  Ons het beplan om te gaan stap.  Ons was bietjie stadig uit die blokke en het toe eers die 10e Augustus gaan stap. 

Ons wou vir die naweek Suidkus toe gaan, ‘n nag iewers oorslaap en twee dae stap.  Ons kon nie blyplek kry nie en was nie lus vir kamp in die koue nie.  Toe besluit ons om maar by die huis te slaap en steeds te gaan stap.  Ons probeer ook ‘n nuwe ding die keer.  Ons ry ‘n fiets in die kattebak saam, los die fiets by die eindpunt en Francois ry met die fiets terug na die kar. 
Ons was al baie in Umkomaas.  Dis waar die bote te water gelaat word om by Aliwal Shoal te gaan duik.  Ons was nog nooit op die strand by Umkomaas nie.  Ons jaag net altyd vroeg na die duikskool, kry ons toerusting, klim op ‘n bakkie, dan op ‘n boot en jaag oor die branders diepsee toe.  Vandag sien ons nou die strand. 
Ons los die fiets vasgesluit teen die heining waar die duikers se bote te water gelaat word.  Daar sit ook ‘n vriendelike wag in ‘n huisie.  Ons neem aan die fiets is veilig.  Toe ry ons tot by Umgababa, daar is ‘n groot parkeerterrein en los die kar.  Ons stap vinnig en voorspoedig, vir omtrent 20 minute.  Toe is daar ‘n rivier voor ons wat stadig vloei en nie na baie lyk nie, seker so 5 m breed op plekke, en dalk net 2 m breed waar dit die see ingaan.  Francois probeer deurstap en is tot by sy middellyf nat voor ons besluit om dit nie te doen nie.  Dis ysig.  Ons stap toe ver terug en klouter teen die treinbrug op, gaan op die brug oor en stap om die laguun.  Die hele oefening moes seker ten minste ‘n halfuur gevat het.  Dis pragtig en ek skat die gesukkel is wat die avontuur maak.  Gelukkig kom daar nie ‘n trein verby terwyl ons op die brug is nie. 
Daarna druk ons deur en stap baie vinnig tot by ‘n groot wit huis ver op die horison.  Kilometers. 
Hier rus ons en eet al ons kos op.  Hierna is die rugsak nogal baie lig.  Die seuns geniet die walle sand vreeslik baie.  Daar is een baie hoe een waar hulle oor en oor afspring.  Hulle is baie opgewonde daaroor en se dit is die beste ding ooit.  Hulle karring baie aan ma om dit ook te doen.
Ons sien modelvliegtuigies, drie van hulle.  Hulle vlieg nogal baie hoog. 
Dit is ‘n baie stil stuk strand.  Ons sien nie eintlik ander mense nie.  Dit is ook nie eintlik moontlik om met ‘n kar hier te kom nie.  Jy sal moet stap.  Ons kleinste maak klippe bymekaar, ‘n groot sak swaar klippe wat hy aandra. Dis swaar.  Ons oudste het ‘n redelike groot krap gevang en na ‘n rukkie het die krap genoeg gehad en hom met sy knyper geknyp.  Hard.  Dit het vasgesit en hy het geskud en getrek en gesukkel om die ding af te kry.  Dit het baie seer gelyk.  Daar was bloed en ‘n baie groot skrik. 
Ons is baie vinniger by Umkomaas as wat ons verwag het.  Ons het die afstand met die kar op die pad gemeet en dis amper 2 km korter op die strand.  Ons is dus effe verbaas toe ons by Umkomaas kom.  Pa kry die fiets en ry 9 km (met ‘n redelike klomp op en afdraandes) terug na die kar.  Ma en kinders bly op die strand.  Hulle spring eers lank teen die hoe snadwalle af.  Toe stap ons na die rivier, waar ons baie lekker in die koelte onder die brug sit.  Heerlik om uit die son te kom.  Ons kyk hoe bote vol duikers inkom, die seuns klouter teen de brug se pilare rond en ma rus uit die son uit.  Pa het glad nie sleg gedoen nie, en laat weet ons na omtrent 45 minute dat hy by die kar is.
Ons wag vir hom net voor die brug, ry oor die brug en stap na die brug tot by ‘n restaurant (Waves), waar pa solank vir ons wag.  Ons bestel melkskommels, chips en hamburgers.  Die kos was nogal lekker, of ons was net so honger dat enigeiets sou lekker wees.  Hulle het baie lekker ‘Adult milkshakes’, glad nie sleg nie.  Na die etery stap ons nog so 1 of 2 kms en ry huis toe.
Ons hond het saamgestap.  Hy is ‘n baie goeie bergklimmer, maar hou nie van water en die see nie.  Ons het hom tot nou toe altyd deur riviertjies gedra en wou vandag kyk wat hy doen as ons hom nie deurdra nie.  Ons los toe die hond aan die oorkant van ‘n 2 m wye baie vlak rivier.  Hy tjank en hardloop heen en weer en gee toe een reuse sprong tot amper aan die oorkant.  Hy was so trots op homself dat hy kon deurkom.




Afstand:  9.7 km
Tyd:  4 ure se stap, langer dag as mens die uiteet (wat lank was) bytel
Riviere gekruis:  4 (2 groot)

Wednesday, August 15, 2012

Kosibaai

Ons is die Julie vakansie Kosi baai toe.  Met groot verwagting om ‘n entjie te stap.  Ons is saam met my ouers.  My pa kan nie so ver stap nie en my ma hou nie van sand nie, so ons het toe net vakansie gehou en niks, heeltemal niks, gestap nie.  Ons noem dit maar navorsing doen.  Ons het na die mond toe gery en die pad Bhanga nek toe gevind, geen maklike taak nie.  Hopelik sal ons nou wel weet wat om te doen as ons daar gaan stap. 
Black Rock

Kosi Mond, snorkel plek is ver oorkant die water

Ons het wel heerlik in die mond gesnorkel.  Dit was ons jongste se eerste snorkel en hy is geheel en al ge-hook op snorkel. 
Bhanga Neck

Friday, August 10, 2012

Dag 19:  23 Junie 2012: La Mercy (Desainager tot Umdloti)

Die weer is nie eintlik ideaal vandag nie, maar ons het so lanklaas gestap dat ons maar in elk geval gaan.  Ons los een kar in Umdloti, waar ons op Dag 18 klaargemaak het en die ander kar net na die eerste sirkel na mens oor die brug by La Mercy gery het.   Dit is altyd pragtig as mens op die M4 ry en oor die brug by die La Mercy Laguun ry.  Dit is ‘n groot laguun, lyk altyd blou en rustig.
Daar is ‘n rede hoekom mens die goed betyds moet opskryf.  Ek sukkel nou vreeslik baie om enige detail van die stap te onthou.  Dit was net ons gesin van 4 wat gaan stap het.  Die monster het ook saamgestap.  Ons het voorspoedig gestap, op ‘n dooie klein haaitjie afgekom.  Dit was maar reenerig en grys.  Dit het heeltyd gelyk na reen. 
Kort voor ons by die laguun kom sien ons baie mense met bote uit die water kom.  Ons bespiegel lank wat dit is en vind later uit dit is die einde van een of ander KwaZulu-Natal roei kompetisie.  Dit klink of hulle van Ushaka af geroei het.  Dis seker omtrent 40 km.  Ons sien die einde van die resies.  Dit is ‘n redelike groot resies met TV kameras, fotograwe in die water en ‘n helikopter wat bo-oor vlieg.  Dis verstommend hoe baie interessante aktiwiteite mens altyd kry as jy op die strand stap.
Die laguun is pragtig, en ons sien ‘n visarend.  En toe begin dit saggies reen.  Ons stap vinnig in die koel reen tot by die kar en ry huis toe. 
Afstand:  6 km
Tyd:  3 ure
Dooie haai

Die einde van 'n kano resies

La Mercy Laguun

Sunday, June 24, 2012

Dag 20: Umhlanga

Die strand en die boardwalk op Umhlanga het ons al baie baie kere gestap.  Ons besluit dus dat ons dit nie weer hoef te stap om te tel nie.  Ons sal sommer net die stukkie grond op die kaart afmerk en van die totaal wat oor is aftrek.  Die stukkie strand is baie mooi en ons het heelwat hierheen gekom toe ons nuut in Durban was.  Deesdae is ons minder lus om so ver te ry en gaan na nader strande. 

Ons het ook in ‘n openbare vakansiedag in 2011 hier deurgebring en dit vreeslik geniet.  Toe het ons anderkant die besige strand gaan stap, die lieflike lagoon ontdek en baie baie gewonder wat verder le.  Dit was duidelik dat mens net daar kan kom as jy stap en dit het die eerste saadjies gesaai van ernstig teen die strand begin afstap.  Die seuns het toe heerlik in die riviertjie geswem of so half branderplank gery met hulle lyfies as die planke (body surfing?).

Speel in die rivier wat uit die lagoon loop

Dis baie lekker om sandwalle af te ry

Apies in die natuurreservaat
Wat bied hierdie pragtige stukkie strand:  Die vuurtoring en ‘n pier wat in die see ingaan.  Rotse met rotspoeletjies, ‘n kleinerige strandjie om te swem, die lang boardwalk vir stap of draf, baie restaurante, selfs ‘n kamer vol speletjies en ‘n natuurreservaat waar mens in die bosse kan rondloop en ons al apies gesien het, ‘n stil strand heel noord en ‘n pragtige lagoon en riviertjie wat soms see toe loop. 
Afstand:  2.9 km
Presies waar:  Vanaf die Umhlanga vuurtoring tot by die Umhlanga lagoon waar ons Dag 18 begin stap het.
Tyd:  Heeldag, baie dae.