Friday, August 9, 2013

Dag 24: 15 Junie 2013: Bluff by ou walvisstasie


Ons het uiteindelik weer gaan stap, na ‘n baie lang stilte.  Die somer was baie lank en warm en ons het besluit om die stappery te bere vir die kouer winter.  Die kinders word ook groter en ons het baie meer goed wat oor naweke moet gebeur.  Dit raak dus al moeiliker om die tyd te kry.
 
Die pad wat ons gestap het, bo van waar ons die kar gelos het.
 
Dit was ‘n lekker lang naweek en ons kies die Saterdag van die langnaweek om te gaan stap.  Ons wonder al baie lank hoe ons in die militere basis in die Bluff gaan uitkom om te stap.  Die probleem is nie die stappery nie, maar hoe om toegelaat te word om in te ry (deur die toegangbeheerde hek) en ‘n kar by die einde te los.
 
Aan die agterkant van die sementblok staan:  Nude beach
 
Ons los toe die probleem op deur te besluit ons stap sommer die een stukkie heen en weer, dan het ons nie nodig om in die militêre basis te kom nie.  Ons los die kar naby die ingang van die militere basis in ‘n residensiële straat waar daar ‘n plek is om teen die baie styl Bluff, deur die bosse (woud) af te klim tot by die see.
 
Daar staan ‘n ou visser aan die bokant wat raad gee.  Hy sê dat mens die paadjie net een keer afklouter en volgende keer parkeer jy liewer die 2 km verder waar jy tot by die see kan ry.  Hy praat ook van mambas aan die onderkant.  Dis darem winter, nie mamba tyd nie, so ons is dapper.   Maar mens se hare staan maar regop aan die einde wat jy deur die bosse stap tot by die see.

Die dooie trappe

Die pad af is inderdaad erg.  Dis baie styl, en baie ruig.  Daar was vroeër  sementtrappe gebou, maar die het inmekaargestort en dis nie eintlik moontlik om op die trappe te loop nie.  Ons is meer dikwels langs die trappe as op die trappe.  Gelukkig sorg dit dat die ruigtes darem so effens oopmaak.  Ek wil nou nie oordryf nie, maar dit laat mens dink aan foto's van ou tempels wat deur die oerwoud oorgeneem is.  Arnold sê dat die trappe dood is. 


Naby die einde, waar die strand draai en die hawemond voor jou is
Ons kom onder by die see en begin stap, van die Bluff af na die ou walvisstasie.  Ons het al baie van die ou walvisstasie gehoor vandat ons in Durban woon, maar was nog nooit daar nie.  Ons stap seelangs by die stasie verby sonder om te gaan kyk.  Ons sal op pad terug gaan loer.

Dit lyk of daar dalk mense hier op die strand woon

Net waar ons uit die bosse op die strand kom, is daar ‘n groot sement blok met die woorde “Nude Beach” daarop geverf.  Daar is nie eintlik ander mense nie, so ek sou nie kon sê of dit wel die geval is nie. 
Heining wat tot in die see loop
 
Ons stap deur twee heinings wat tot in die see gaan.  Albei is stukkend en ons stap sommer net deur.  Ons is nou in die militêre basis by die see.  Daar loop ‘n treinspoor en ‘n pad van die walvisstasie die basis in.  Daar is wel mense by die pad, iets wat soos ‘n kinderpartyjie lyk met balonne en stoele op die strand, mense wat met hulle kinders fiets ry en hier en daar iemand wat visvang.  Hulle het almal met voertuie ingekom.  Ek neem aan as jy op die militêre basis kan kom, kan jy tot hier ry en die see geniet.  Langs die walvisstasie is ook ‘n groot kompleks, aan die reuk ly ons af dat dit ‘n rioolverwerkingsaanleg is. 

Die ou walvisstasie

Heel aan die einde, draai die pad en ons is nou naby die hawe mond, maar aan die suidekant van die hawe.  Daar is ‘n redelike groot grond (eintlik gruis) pad.  Daar is ook heelwat mense.  Mense wat lyk of hulle hier langs die see woon of plak.  Daar is ‘n gehuggie met seil gebou, gasbottels (vir kook), snorkel en duik toerusting en allerhande goeters, en kaste koue bier.  Ons is nie seker of dit net ‘n plek is om koffie en bier deur die dag te drink of iemand se huis is nie.  Daar sit heelwat mense en ‘n baie kwaai hond rond.  Ons het ons hond aan ‘n halsband en die ander hond storm op ons hond af en begin baklei.   Ons kry darem sonder baie moeite die twee honde uitmekaar.  Tiaan dra altyd stokke rond wat hy langs die see optel en ek het een van die stokke in my hand gehad.  Gelukkig was die ander hond bang toe ek lyk of ek wil slaan en gee pad.
 

Ons stap oor ‘n groot stuk kaal sand tot aan die ander kant en kyk af op die hawe mond.  Daar is ‘n smallerige kanaal waar die skepe die hawe in en uitvaar.  Dis baie interessant om te sien hoe dit hier lyk.  Ons kom so baie aan die ander kant van die hawemuur. Maar het absoluut geen idee wat hier is nie.  Daar is ook ‘n pragtige rotspoel, reg voor die mense se huis (skuiling?) wat wonderlike snorkelplek is.  Dis redelik groot, tussen rotse en lyk lekker beskut. 
 

En toe moet ons die hele pad terug stap.  Dis selde wat ons heen en weer moet stap en dis nie baie lekker nie.  Dis baie ekstra moeite, vir niks ekstra kilos nie.  Ons stap redelik vinnig terug en stop die keer by die walvisstasie.  En was dit nou ‘n treat!

Dis ‘n baie groot plek, met baie verskillende geboue wat almal vervalle is en besig is om uitmekaar te val.  ‘n Deel daarvan is vol koeelgate en ons neem aan die weermag gebruik dit vir oefeninge.  Daar lê ook baie handgranate rond.  Die kinders is mal daaroor.  Oudste besluit dis waar hy sy verjaardagpartytjie wil hou.  Dit klink na ‘n wonderlike idee, maar is ‘n redelike logistiese oefening.  Jy moet of ‘n vriend in die weermag hê of ‘n paar kilos op die strand stap om hier te kom.
Snorkelplek naby die hawe

Een van die laaste geboue waardeur ons stap is enorm.  Die dak is weg en daar groei nou plante in die binnekant.
 
Daar is geboue met trappe wat inmekaarval, of mure wat weg is en die trappe is nou half aan die buitekant van die gebou.  Ek kan sien hoe mens ‘n fotosessie hier kan hou; troufotos of modefotos.  Ons klim en klouter ‘n ruk in die geboue rond, tot ons begin haastig raak om darem voor donker by die kar te wees.  Ek het nie baie mooi foto's nie, teen die tyd was ons effe te moeg om baie kreatief te wees.


Die ou walvisstasie word sterk aanbeveel as iets om te sien en toe doen in Durban.  As jy nie mal genoeg is om ure lank langs die strand af te stap nie, sit dit ten minste op jou lys.  Dis die moeite werd om te sien; veral as jy energieke jong seuns het wat graag ‘explore’.  Of as jy ‘n fotograaf in die gesin het wat met die kamera wil speel. 

Dis nog omtrent ‘n kilo se stap van die walvisstasie af na die opklimplek.  En die opklim is nou nie eintlik ‘n grap nie.  Ons blaas en stoom en rus en klouter teen die baie styl baie gebreekte trappe uit tot bo.  Ons is moeg; gaar; kapoet.  Ons ry huis toe, koop sommer takeaways op pad huis toe en val moeg by die huis neer.   

Dit lyk na 'n baie lekker plek om te swem en snorkel
 Volgens my pedometer het ek vandag 17293 tree gegee en 10.6 km geloop.  'n Deel daarvan was nie deel van die stappery nie.  Ons het 11:05 begin stap en 3:53 klaargemaak.

No comments:

Post a Comment