Vandag is die laaste dag van ons kort stap vakansie. Die weer lyk nie baie goed toe ons opstaan nie. Erg reënerig. Met die kennis van hindsight moes ons seker die dag in die oulike games room deurgebring het.
Ons ry na die plek gister geidentifiseer as die naaste punt aan die see. Daar het egter baie meer reen geval of minder son geskyn as die vorige dag wat ons gery het. Ons gly baie rof op een plek, maar kom gelukkig daaruit met die twee pa’s wat soos bobejane op die agterkant van die bakkie op en af hop. Dit help glo.
Ons stap 900 m deur die bosr na die strand, daar is ‘n duidelike paadjie. Die pad is reg by die huisie van ‘n natuurbewaarder. Die plan was om omtrent 6 km van daar te stap terug na die kampeerterrein en ons lekker warm storte. Toe ons egter op die strand kom, waai daar ‘n redelike sterk wind in die verkeerde rigting. Noord is die pad 9 km lank, dus nie soveel verder nie. Die son skyn ook op daardie oomblik. Ons besluit toe dat dit soveel makliker sal wees om saam met die wind te stap as om teen die wind te stap en neem die besluit om Noord ipv Suid te stap. Die Seconder word gebel en van die nuwe plan vertel. Omdat ons nou verder moet stap, moedig ons die kinders aan om vinniger te stap. Ons stap vandag vreeslik vinnig. Ons doen die eerste uur 2.5 km, toe 3,5 in ‘n uur en toe weer 3.5 in ‘n uur.
Ons het nie baie ver gestap nie, toe die son verdwyn en die reën begin. Dit reën nogal. Hard. Ons is gou gou sopnat. Die helfte van ons het goeie reënsakkies en die res het warm baadjies en drymacs. Die kleinste dogtertjie is yskoud en ons besluit ons sal moet vinnig stap om haar warm te hou en haar uit die koue en reën te kry. Gister het die reën heeldag gekom en gegaan, maar vandag reën dit amper net die hele tyd. Ons het baie kos en water by ons, maar dis nie lekker om in die reën te staan en eet nie en ook koud, so ons stap eerder as eet.
Dit is ‘n ongelooflike vervelige stuk pad. Daar is niks anders as net sand en see nie. Daar is heelwat krappies en ons sien selfs strandlopertjies. Die reën was sleg en ongemaklik en almal effe koud in die wind toe ons natgereën was, maar ek dink die pad sou baie erger gewees het as die son geskyn het. Hier kan die son mens lelik bykom.
Na omtrent 10 km op die strand kom ons by die Nyoni rivier net voor dit die Amatikulu rivier invloei. Die idee was om die boot by die kar te gaan haal en deur die rivier te roei, maar ons is koud en nat en lus vir klaarkry en ons waad liewer almal deur die rivier; wat warmer is as die lug. Dit is nie baie diep nie, omtrent tot by ons middels, oop water, met modder slik onder. Die twee kleintjies word deur hulle pa’s oorgehelp. Die een ry op die drybag oor saam met haar pa en die ander een word op sy pa se rug oorgedra - kurkdroog. Die een pa kom weer terug na die een kind oor is en abba sy seun ook halfpad deur. Die ma’s waad sommer net op hulle eie deur. Die water was nie veel kouer as wat ons reeds was nie.
Van daar is dit nog omtrent 2 km se stap na die piekniekplek waar die kar vir ons wag. Ons uitstekende seconder wag reeds vir ons. Ons trek droog aan en klim in die warm kar. Almal ontdooi redelik vinnig. Ons stop vir hamburgers en chips voor ons by die kampterrein kom.
Ons is in die versoeking om huis toe te ry ipv om nog ‘n nag te slaap. Almal is koud en nat, van ons beddegoed is nat en ons is almal hartlik siek vir modder en reën en water teen die tyd. Terwyl die kinders in lekker warm baddens is, onderhandel die grootmense met die kampterrein se eienaars en ons kry ‘n pas ontruimde groot ruim huis met plek vir 10 mense vir omtrent dieselfde prys as wat ons vir die twee kampplekke sou moes betaal. Toe slaap ons maar nog die nag. Ons braai lekker, kry alles wat moet droog kom droog oor die rivier. Die volgende oggend speel ons (in Sonskyn) met die kinders en ry laatoggend huis toe.
End goed, alles goed?
Aan die begin toe ons nog almal droog was |
Die laaste duin voor ons op die strand kom |
Verlate strand |