Tuesday, June 28, 2011

Dag 3: Die laaste 5 km

Vandag word deur een van die ander stappers geskryf, dus 'n gas blogger: 
Ons laat die een ma agter by die ondersteuningspan en vertrek weer verder oor die oop sand strand.  Lang oop sand. Dit was voorwaar ‘n interessante dag van afwisseling. Na ongeveer nog ‘n uur kom ons weer by ‘n groot gety poel en ‘n baie mooi karavaanpark. Dit was Salt Rock. Die natuur roep en ons gebruik die ammunisie blok (soos ek al iemand dit hoor noem het).  Die een jonger seun met die sand tot op die kroontjie word gou onder die stort afgespoel deur die een verantwoordelike Pa. Ons klein nefie lyk bietjie blou, maar hy weier om te erken dat hy koud kry. Dis reg so. Sy Ma is nie naby nie en die ander verantwoordelike Pa voel dat dit wat nie doodmaak nie, net kan karakter vorm. Dit is van die besondere by voordele van hierdie stap. Ons kinders geniet dit. Ons doen iets saam in die gesin en so word waardes en norme gevestig.

Laat middag toe daar min broodjies oor was moes ons mooi deel en ‘n mens waardeer elke stukkie vreeslik baie. Sommer veel meer as die Spur burgers wat ons na die tyd gaan eet het. Ons sien daarna uit om later meer buite die beskawing te stap met projek Strandlopers. Later sal die kinders dalk ook klein rugsakkies moet dra. Ek wonder hoe sal dit die spoed, speel en swem beinvloed. (Redakteur:  Ek dink dis 'n goeie idee om rugsakke op die kinders te sit om hulle stadiger te kry.  Miskien moet ons ekstra klippe insit.) Ons leer weer om dit wat ons so vanselfsprekend aanvaar, regtig te waardeer. Die een Ma se voet ongeluk ( anemone ) het so maklik gebeur. Miskien moet ons almal hieruit ‘n les leer. Die kinders sal dalk moeiliker gekry word om skoene te dra.

Na die karavaan park sien ons 'n troue op die strand en sou eers ‘n uur later hoor dit was toe einlik die hotel waar die ondersteuningspan gewag het. Ons stap weer oor rotse en weer op oop sand. Ons vra raad by ‘n plaaslike visserman maar dit was nie van veel waarde nie. Ons vra weer aanwysings by ‘n plaaslike stapper op die strand en verneem dat ons bykans by die Noordste punt van Sheffield beach is. Die man begin eers spot en se “ If you are looking for Mocambique you are going in the right direction “ Wel ons sien met groot verwaging daarna uit om waarlik binne ‘n jaar of twee dalk regtig die volle pad te stap tot op die Mosambiekse grens. Ons kry ‘n paadjie wat opwaarts lei na die teerpad en so kom nog ‘n fantastiese dag se stap tot ‘n einde. Dit was vaarwaar ‘n voorreg. Ons het weer die Skepper en Skepping en gesondheid van vooraf waardeer. Ons sien met verwagting uit om weer volgende keer verder Noord te gaan.

Die ondersteuningspan tel ons op met twee voertuie en ons waardeer hulle regtig baie. Baie dankie julle. Julle is dierbaar. Lief vir julle.

Kyk Noord. Gaan voort. Vasbyt. Dit is ‘n voorreg om jou bene te kan gebruik. Geniet die lewe. Elke oomblik. Ons is geseend.

Sunday, June 26, 2011

Dag 3: Ballito tot Shaka’s Rock

Vandag was anders, ons het vir die eerste keer meer as genoeg tyd gehad om te stap.  Ons gaan heeldag stap, nie vinnig kyk of ons voor donker by die kar kan uitkom nie.  Dit maak ons ook bietjie nag, want ons is nie seker of die kinders in staat is om heeldag te stap nie.  Ons weet hulle kan 6 km stap, maar kan hulle 10 stap.  My (die gewone nie stappende ma) maksimum vir ‘n dag is 10 km.  Ek dink nie ons moet ooit meer as dit probeer nie.  Comrades pa dink ons kan maklik 20 plus km op ‘n dag stap.  Vandag vind ons uit hoe ver ons kan kom.

Dis hoe 'n voet lyk met see anemoon penne binne.  Dis effe seerder as wat dit lyk.


Die beste stappers


Ons het Vrydagaand laat gekuier en gewone ma het heeltemal te veel wyn gedrink, so ons kom eers baie baie laat aan die gang.  Ons ontmoet mekaar langs die N2 en om 10 uur begin ons stap.  Ons het vandag twee nuwe stappers; ‘n ervare stapper uit die Kaap en ‘n nefie van die kinders wat saam stap. Een van die dogters het die vorige dag haar enkel seergemaak en sy en haar ma sit uit en ry saam om ons te help.  Ons het dus vandag ‘n ondersteuningsvoertuig.  Ons is 4 volwassenes en 4 kinders, geen honde vandag nie. 
Ons stap van Ballito na Sheffield Beach.  Ballito strand is pragtig.  Ons kom heeltemal te min hier.  Die eerste amper 2 km het ‘n boardwalk waarop ons kan stap.  Die kinders hardloop onder op die rotse en die grootmense stap bo op die paadjie.  Dit was baie koud vanoggend in die westelike voorstede, maar dit word vinnig warm.  Vinnig-vinnig is al die warm klere in die rugsak en ons stap in kortbroeke en T-hemde.  Dit terwyl die res van die land verkluim.  Dit was ‘n perfekte dag, windstil, helder, sonskyn en warm. 
Ballito is pragtig.  Dis net effens te ver om sommer uit Durban te ry en ons kom heeltemal te min daar.  Strande, rotse, see, pragtige prentjies om elke hoek.  Die strande is redelik leeg vandag.  Ons stap verby ‘n paar gety poele, die seuns probeer swem, maar dit is effens te koud.   Ons stap by ‘n plek verby wat hole in the wall genoem word en net na die hole is daar ‘n groot getypoel/swembad (Thompson’s Bay).   Ons probeer weer swem, maar dit is net te koud om lekker te wees.  Daar is ‘n lang lys van reels vir die getypoel.  Die laaste reel is dat mens nie haaie in die poel mag vrylaat nie.  Nou toe nou !  Hier kry ons die eerste keer ons ondersteuningspan.  Hulle bring vir ons twee swaar sakke met koffie, koeldrank, hot dogs, chips en malvalekkers.  Ons sit ‘n rukkie  en kuier en toe stap ons weer verder.  Ons klim oor ‘n redelike hoe rots om by ‘n mooi strandjie te kom.  Daarna stap ons weer op rotse teen die see verby.  Die branders was nooit naby nie,  maar dit is die deel van die stappery wat die ma baie bang maak.  Netnou slaan ‘n groot brander iemand van die rotse af.  Ballito is egter ‘n besonder beskaafde plek en waar die rotse net effens te uitdagend raak is dar trappies gebou wat ons oor die rotse neem.  Dit gee ‘n wonderlike uitsig.
Ons kom by nog ‘n getypoel, maar van die agterkant en daar is nie eintlik ‘n manier om droogvoets daardeur te kom nie.  Aan die een kant is rotse waar die branders breek en ons vermoedelik gaan afslaan en aan die ander kant is ‘n rotsmuur met ‘n dun lysie.  Tussen-in is ‘n groot, nie baie diep, getypoel.  Ek is lief vir swem, die res is  nie lus vir swem nie.  Ek trek my T-hemp uit en se dapper dat ek sommer sal deurswem, sien hulle anderkant.  En halfpad deur die getypoel trap ek op ‘n see anemoon.  Ek het nie eers geweet die goed leef in KwaZulu-Natal se getypoele nie.  28 van die stekels breek in my voet af en los lelike swart kolle.  Dis verskriklik seer en ek kan nie op my voet trap nie.  Ons sukkel almal deur die getypoel, meestel redelik droog.  Daar is net een plek waar jy deur die water moet loop, tot onder die knie.  Ek sukkel strand toe, besluit dat ons nou ‘n mediese noodgeval het en ek weier om verder te stap.  Die ondersteuningspan word gebel en ek word gered.  Die res stap verder.
Ons ry na die nefie wat saamstap se ma se huis waar die plan is dat die vroue die stekels moet uitgrawe.  Ons kom agter dat die goed nie eintlik uitgetrek kan word nie, want hulle verbrokkel as jy aan hulle raak.  Ons kry een uit, sien dat een meer as ‘n cm diep is en begin bekommerd raak.  Ons is nog redelik oortuig dat die goed giftig is ook.  My vriendinne oortuig my dat ek ‘n dokter nodig het, dis Saterdagmiddag en die enigste dokter is by die ongevalle afdeling van die hospitaal.  Ek het geen geld of dokumente aan my nie.  My man het ‘n kredietkaart, maar hy stap.  Gelukkig kan die hospitaa my mediese fonds bel wat ‘n lidsertifikaat faks en ek word darem ‘verniet’ gesien.  Die verpleegsters en dokters is besonder min geinteresseerd in my krisis.  Hulle se basies dat daar niks is wat hulle kan doen nie, want die goed vebrokkel.  Ek kry antibiotika en word vertel om te wag tot die goed weggaan  Dit sal oplos.  Ons weet ten minste nou dat dit nie giftig is nie,  Ek kan nie op my voet trap nie, maar as ek net stil en rustig sit is dit nie te seer nie.
Die reeling was om die strandlopers by die Salt Rock Hotel te kry.  Ons sit op ‘n lieflike terras, drink cocktails en cuppucino en eet chips terwyl ons na ‘n troue onder op die strand kyk.  Dis idillies.  Miskien is dit nie so slegte idee om in die ondersteuningspan te wees nie.  Ons bestaan uit ek met ‘n seer voet, ‘n dogter met ‘n seer voet, haar ma en een van die stappers se suster en man met ‘n kind.  Ons kuier heerlik.  Toe ons die stappers bel om hulle ter vertel dat hulle ons hotel sal uitken aan die troue onder op die strand moet ons hoor dat hulle al lankal by die troue verby is.  Ons eet klaar en ry toe Sheffield Beach toe om hulle te gaan oplaai. 
Die nuus wat ek van die res van die staptog gekry het is dat die kinders wegkruipertjie speel.  Hulle stap vooruit en kruip dan agter ‘n rots weg en maak die mense wat later kom skrik.  Daar was twee plekke waar hulle oor baie moeilike en gevaarlike rotse moes klim.  Ons dink nie dis ‘n goeie idee om weer sonder ma’s te stap nie.  Daar moet altyd ‘n ma teenwoordig wees om sekere goed te veto.  Die twee jongste seuns het in die water begin speel en is deur die branders gerol en was sopnat.  Daar was sand op my seun se kroontjie toe ek hom weer sien.
Ons het nogal aan die begin van die staptog gedink dat die grootmense OK sal wees, maar ons moet bekommerd oor die kinders wees.  Die kinders stap egter soveel beter as die grootmense.  Hulle is altyd voor ons, hardloop soms dele van die pad en ons moet hulle gereeld roep om te wag tot ons by hulle kom.  Die uitdaging is dus om die grootmense heel by die einde te kry nie die kinders nie.  My kinders is mal hieroor.  Ons raas gereeld met die kinders dat hulle naby ons moet bly en nie so ver vooruit moet stap nie. 
Die groep het altesaam 11.2 km gestap.  Ek het 4.7 km gestap.  Ek sal nou een van die ander stappers moet boelie om die res te skryf.  Die staptog het van 10 tot 4 geduur.  Ons stop op pad huis toe by ‘n apteek en die antibiotika begin.
Ons het nog net 3 dae gestap, maar ons is reeds verstom oor die pragtige natuurskoon wat ons oor en oor ontdek hier op ons voorstoep.  Dit wys net dat mens nie altyd ver hoef te ry om die wonders van die wereld te gaan soek nie. Dit help ook as mens op so ‘n besonderse stuk kuslyn woon.
Versoek aan die stapper vriende; ek soek ‘n stukkie geskryf oor die 5 km wat ek nie saamgestap het nie. 


Dag 3 roete

Statistiek:  Afstand gestap in 'n regit lyn:  9.2 km
Totale afstand: 11.2 km
Tyd gestap:  6 ure

Sunday, June 19, 2011

Dag 2: Isipingo tot Cuttings

Kaart van Dag 2

Fabrieke aan die einde van die stap - moet eendag hier kom fotos neem



Ons whuzz hond moet deur die water gedra word.
Dit lyk soos die Wilde Kus

Opmerkings vandag langs die pad:
As ons dit oorleef sal hierdie die beste staptog nog wees.
Dit lyk soos die Transkei.
Dis nou heeltemal te vervelig.  (Op ‘n lang reguit sand strand, net voor die groot opwinding begin.)
Jou kinders lyk of hulle soveel pret het.

Vandag was verstommend.  Ons het gestap waar nie een van ons al ooit was nie, al bly ons in Durban.  Dele van die strand was pragtig, verlate, wild, ongerep en rotsagtig.  Die enigste manier hoe mens weet jy stap nou in die middel van ‘n groot stad, langs ‘n oliraffinadery is in die baie rommel wat op die strand lê. 

Ons het heeltemal te laat begin.  Dit was vadersdag.  Die een helfte van ons het ‘n spesiale vadersdagete by die kerk gehad en eers skottelgoed na die tyd gewas.  Die ander helfte van ons het vir pa ‘n spesiale vadersdagbraai by die huis gehou.  Die kinders het vuur gemaak en vleis gebraai terwyl pa gekyk het en bier gedrink het.  Aan die manne in ons lewe:  “Gelukkige Vadersdag.  Julle is Wonderlike Pa’s !”

Die vadersdag vieringe het beteken dat ons mekaar eers na 2 ontmoet het en teen die tyd dat ons ‘n voertuig by die einde gelos het en al die rugsakke en GPS’e uitgesorteer het en begin stap het was dit al 2:40.  Heeltemal te laat om ver te stap voor die son onder gaan !  (Let wel, ons leer uit ons foute.)  Vandag is ons nogal ‘n groot groep stappers.  Ons is 7 grootmense, 5 kinders en 2 honde. 

Ons het die roete voor die tyd op Google Earth bestudeer en ons weet dat daar ‘n rivier is wat ons moet deur en dat ons twee keer oor rotse sal moet klim.  Die werklikheid was egter so effe rowwer as wat dit op die foto’s gelyk het !  Dit was hoogwater toe ons gestap het.  (Nog iets om in ag te neem as ons weer beplan.)

Ons begin reg agter die Amanzimtoti golfbaan stap en los die karre in gholf course road.  Die eerste deel van die roete stap ons op ‘n besige strand, met ‘n krieketwedstryd, vissermanne en gesinne wat kuier.  Dis ‘n lieflike dag.  Helder sonskyn, amper geen wind nie.  Lekker!   Ons stap nie te ver voor ons die eerste rivier van die staptog moet oorsteek nie.  Dis relatief vlak en ons kom maklik oor.  Ons vind ook uit dat ons hond ‘n whuzz is wat weier om deur ‘n rivier te swem.  Hy word gedra.  Dis nogal baie mooi hier.  Ons stap nie te ver van die rivier voor ons twee pragtige grotte kry.  Ons kinders is mal oor die grotte en klouter daar rond.  Ons moet maar vinnig kyk, want die ander stappers is haastig.  (Miskien ook maar ‘n goeie ding.)

Toe stap ons weer’n stuk op ‘n lang reguit strand.  Ons raak net verveeld met die lang reguit strand, met bitter min afwisseling.  Ons kom af op ‘n ou bouval reg op die rotse op die strand.  Dit lyk of daar eens op ‘n tyd ‘n getypoel reg voor die bouval was.  Die kinders noem dit ‘n kasteel op die rotse.  Na die ‘kasteel’ stap ons oor baie rotse.  Dis pragtig, met groot plate rotse, waar ons lekker stap.  Daar is baie groot branders.  Perfek vir branderplankry.  Dis lieflik en wild.  Daar is ‘n paar vissermanne.  Van hier af word dinge net mooier en rowwer.  Ons stap om ‘n paar draaie wat lyk soos kolle in die Transkei, sonder die koeie.

Die mooi roste eindig in ‘n kanaal wat in die see uitmond.  Aan die see se kant is dit net water.  Tussen die roste en die kanaal (mensgemaak) is daar nie plek om veilig deur die see te kom nie.  Aan die ander kant is daar ‘n teerpad.  Ons sal deur die kanaal kan swem, dieper in verder van die see.  Dis diep, maar kalm en seker nie meer as so 3 m breed nie.  Toe ons die plan uitgedink het om al langs die kus te stap het ons besef dat daar riviere in die pad gaan wees, maar dis ‘n ander ding om voor jou eerste rivier te staan as om in jou sitkamer aan die eerste rivier te dink.  In plaas van swem, stap ons ‘n stukkie met die pad langs en kom by die ingang van die olieraffinaderye.  Daar is ‘n sekuriteitswag.  Hy sê dat ons maar op ‘n ander dag sal moet terugkom en dat dit maklik is om by die see verby te kom met laagwater.  Dis nou hoogwater.  Hy laat ons deur die hek stap en daar is ‘n brug met ‘n teerpad oor die kanaal.  Dit is effe ingewikkeld om weer van die teerpad terug te kom by die see.  Ons vriend, die een van die Dusi en die Comrades, doen ook adventure racing.  Sy ogies begin glinster en die ding begin nou heeltemal te veel soos ‘n avontuur voel vir die voorstedelikes onder ons.  Maar ons is nou reeds so ver en terugstap kan ons seker nie.

Terug op die rotse begin ons besef dat die son al water trek en ons nog ver het om te stap.  Die rotse is aansienlik moeiliker as wat hulle tot nou toe was.  Ons moet op ‘n punt deurkom waar die water naby is.  Twee van die kinders en een van die grootmense word deur die water gevang en is nat.  Ons kom darem almal lewendig anderkant.  Dis hier waar ons begin besluit; as ons dit oorleef was dit regtig ‘n besonderse dag.  Ons stap seker omtrent ‘n kilometer op die rotse.  Ongemaklike rotse, met baie klim en klouter; terwyl die son al laer trek.  Daar is ‘n pragtige sand strandjie net voor die einde van die rotse. 

Dis al redelik skemer toe ons van die rotse afklim.  Dis nog ‘n stuk reguit, sagte strand tot waar ons kar vir ons wag.  En daar moet ons nog ‘n rivier oorsteek.  Die een is ook ‘n mensgemaakte kanaal.  Baie vlak en redelik wyd.  Die whuzz moet weer gedra word.  En reg aan die einde is daar ‘n hoe muur om uit te klim as jy nie wil nat word nie.  Die muur is al wat tussen ons en ons kar lê.  Dis pragtig hier, die son wat ondergaan weerkaats op die kanaal, met ‘n groot fabriek in die agtergrond.  ‘n Wonderlike plek om foto’s te kom neem.  En ‘n duidelike herinnering dat ons eintlik die heeltyd net agter ‘n reuse raffinadery gestap het in ‘n baie groot stad, nie iewers in die verlate wildernis van die Wilde Kus nie.

Vandag was seker nie ons beste oomblik van verantwoordelik wees nie.  Maar ons het oorleef en dit was vreeslik lekker.  Ons sal volgende keer so effe beter beplan en so effe meer veranderwoordelik wees. 

Statistiek:  Afstand gestap:  7.6 km (waarvan 0.76 km nie langs die kus was nie en dus nie tel nie)
Ons kan nie die totale afstand aftrek van die 575 wat ons moet stap nie
Tyd gestap:  3 ure

Opsomming:
Afstand gestap: 13.2 km
Afstand gestap, nie langs kus (maw tel nie vir totaal !): 0.76 km
Tyd gestap: 5.5 ure
Gemiddelde spoed: 2.5 km/uur

Afstand gery:  110 km
Mense gestap: 14
Riviere geskruis: 3

Afstand oor: 561.8 km

Monday, June 13, 2011

Die dag na Dag 1

My kuite is styf. Eina. Die sand waardeur ons geloop het was dik !

Sunday, June 12, 2011

Dag 1 - Merewent na Bluff Brighton Beach

Kaart van vandag se stap




Kinders speel op 'n waterpyp - kyk hoe ver ons kan spring
Stadig oor die rotse


Die staptog van 575 km het begin.

Ons begin Sondag 1:45 stap vanaf die parkeer terrein by Calicut. Ons het mekaar 12 uur gekry, maar ons het baie tyd spandeer aan kos kry, rondry, almal bymekaar kry. 'n Groepie van 6 volwassenes, 6 kinders, een tussen-in en een hond eet pizzas in die parkeerterrein en begin toe die staptog van 575 km.

Ons stap 2 ure aan 5.2 km op die Comradesdrawwer se masjientjie. Glad nie sleg nie. Die kinders is nie een keer geboelie om te stap nie, om die waarheid te se ons kinders was meestal ver voor die res van ons.

Die hond help ook baie om die kinders aan die stap te hou.

Die voordeel vir die kinders: Die strand is effe verlate en ons gee nie om dat die kinders soms tot 100 m voor ons stap nie. Kinders wat in stede woon, het deesdae nie meer baie geleenthede om 100 m van hulle ouers af te loop nie.

Ons speel nie baie nie, stap net meestal. Die grootste speletjie langs die pad was om van een van die waterpype af te spring. Dis nogal 'n spring, in elk geval ver genoeg om die kinders te laat dapper voel en die ma's bekommerd te maak.

Ons stap langs pragtige rotse verby, waar ons nogal moet klim en klouter. Dit was mooi en wild en rof.

Die wind waai nogal, maar van agter.

By Brighton Beach aangekom draf Comrades-man al die pad terug om sy kar te gaan haal. Gewone pa ry met die moee kinders na die restaurant by Anstey Beach. Die gewone ma's, minder moee kinders en hond stap na die restaurant. Ons eet vetterige tjips en drink mega koffies terwyl dit buite begin reen.

'n Lekker Sondag middag. Ons is 6 uur by die huis.

Hierdie was net 'n proeflopie, 'n tipe van 'proof of concept'. Ons het deurgekom. Dit kan werk. En ons weet nou dat ons omtrent 2 km per uur stap en dat ons darem 6 km kan doen sonder om doodmoeg neer te slaan.

Statistiek:
Afstand gestap: 6.3 km
Tyd gestap: 2.5 ure
Tyd gekuier na stap: 1.5 ure
Afstand oor: 568.7 km

Die Stappers

Die dapper strandlopers is 'n gewone voorstedelike gesin, met geen stapondervinding nie. Wel, darem nie niks nie, ons het al so hier en daar 'n paar ure gestap, nog nooit oornag gestap of swaar rugsakke gedra nie. Ons bestaan uit 'n ma en pa en twee seuntjies. Die ma en pa is al heeltemal te naby aan 40 en die seuns is 9 (en baie) en 7 (en 'n half).

Die idee om van Port Edward na Kosi Baai te stap was die ma se idee. Sy het altyd vreemde idees. Die pa het nogal van die idee gehou en sy vriend daarvan vertel. Die vriend was MAL oor die idee. Hy verdien ook die meeste krediet daarvoor dat die projek wel begin het en nie net Ma se slim idee gebly het nie. Slegs een naweek nadat ons die idee met hom gedeel het, het hy die eerste staptog gereel. Die vriend is ook nie 'n gewone voorstedelike ou nie, hy het al die Comrades en die Dusi kano maraton voltooi, meer as een keer.

Vriend nooi sy gesin - vrou, seun en dogter en kuiergas uit Duitsland saam.

Die missie

Die missie: Om van Port Edward na Kosi Baai (of daar iewers) te stap.

Die agtergrond: Ons is mal oor die strand. Ons speel al lank met die idee om as gesin op staptoere te gaan. Maar ons probeer nou eers net kort dagstappies en roetetjies na watervalle en so aan. Toe wonder ek een dag of dit sal werk om die twee te kombineer. Kom ons doen 'n staptoer langs die strand. Ietsie rustigs, sonder rugsakke. Waar kan mens stap? En iewers verander dit in die idee om al die pad langs die strand te stap van Port Edward na Kosi Baai (of daar iewers).

Ons is rustig oor die missie. Die kinders is seker nog so 10 jaar by ons in die huis. Iewers oor die 10 jaar moet ons die 600 of so kilometer stap. Dit is met ander woorde so 60 km per jaar. Ons beplan beslis nie om alles in een te doen nie. 'n Bietjie vandag, 'n bietjie volgende naweek, 'n dag hierdie vakansie, 'n dag daardie langnaweek. Teen 10 km per dag behoort dit dus net so 60 dae te neem. Dit is ook nie belangrik om dit chronologies te doen nie. Ons kan die stukkies aanmekaar las soos dit werk.

Projek strandloper is gebore.