Friday, September 21, 2012

Dag 22: 16 September: Amanzimtoti



Dit het vreeslik gereen die laaste week, Saterdag het dit gesous en ons is moeg vir binne wees.  Ons besluit dus om Sondag te gaan stap, as dit nie reen nie.  Ons word inderdaad Sondag wakker met blou lug.  Ons het niks gereel of reggemaak om te gaan stap nie.  Ons is eers kerk toe, beplan om sommer daar pasteie te koop vir die stap en dit is natuurlik die een Sondag wat die kerk nie pasteie verkoop nie.  Ons gaan leen ook eers gou ‘n fiets en val so 12:00 in die pad.  Toe ons by Toti stop kom ons agter dat die wind waai, regtig baie waai.  En die wind waai teen ons soos ons wou stap.  Ons is nie lus om andersom te stap nie en besluit ons sal maar teen die wind stap.  Dom, dom, dom.  Ons het hard gewerk vandag teen die wind.  En die stukkie wat ons saam met die wind gestap het was sooooo maklik.  Ons sou soos die wind die afstand vandag kaf gedraf het, gevoel het of ons vlieg.  En die hartseer deel is, ons weet regtig eintlik beter. 

Ons sluit die fiets so half agter ‘n besigheid vas.  Dit is seker effe privaatgrond, teen ‘n heining waar die besigheid se asblikke staan, maar dit is reg langs twee parkeerplekke, en dit is oop en bereikbaar.  Dit is nie eintlik sigbaar van die straat nie, en ons hoop niemand sal die fiets sien nie.  Toe Francois daar aankom om terug te ry het die eienaar van die besigheid (wat baie toe was) die fiets ontdek, besluit dis iemand wat ‘n affair het in die woonstelle langsaan en ‘n foto van die gesteelde fiets geneem en vir die polisie gestuur.  Ons vra toe maar om verskoning en hy se hy is net bly hy het wel uitgevind wat aangaan. 

Ons parkeer omtrent 6 km verder en begin stap.  Die wind waai verskriklik en ons besef omtrent onmiddellik dat ons in die verkeerde rigting stap, maar ons is te dom om terug te gaan en die fiets en kar om te ruil.  Ons stap van 12:40 tot 3:36.  Ons is doodmoeg, ons bene is seer en selfs die seuns kla dat hulle bene pyn.  Gewoonlik kla hulle nie terwyl ons stap nie. 
Ons eindig net anderkant ‘n redelike groot rivier by Toti.  Ons het op Dag 4 tot teen die rivier gestap en eindig vandag aan die oorkant van die rivier.  Ons kruis nog twee redelike groot riviere, een deur ‘n klein draai te loop, oor ‘n sokkerveld en voetgangerbruggie en een wat ons sommer net tot by ons enkels nat word.  Ons hond is baie bang vir water en kom net deur die rivier as hy agterkom ons is almal aan die ander kant as hy.  Sy tegniek is om hard te tjank, te hardloop en te spring.  Hy beplan nie baie goed nie.  Die rivier is hy op ‘n dieperige deel deur, maar dit was smal en hy het net naby die oorkantste wal in die water geval.
Ons het nie ver gestap voor ons honger was nie.  Ons het langs die pad op ‘n klompie rotse ons hotdogs patkos geeet, wat ons 11 jarige seun vir ons heeltemal alleen gemaak en ingepak het.  Dit was doodreg en heerlik, ons kan dalk so bietjie aan die verpakking werk. 
Dit was baie baie koud.  Mens het nie eers gevoel of jy in die son was nie.  Die sterk wind was baie koud.  Ons het die heeldag met ons warm klere aan gestap en het by tye nogal koud gekry. 
Aan die einde het ma en seuns op die strand gewag terwyl pa na die fiets toe is en toe kar toe gery het.  Hy het net 24 minute fiets gery.  Arnold het ‘n sandkasteel gebou met gragte en mure om dit teen die water te beskerm.  Die hond is baie erg oor Pa en dit was vir hom baie sleg om by ons agter te bly terwyl sy gunsteling mens wegstap. 
Tiaan het ‘n stuk palmblaar opgetel en met dit soos ‘n swaard rondgestorm.  Hy het gese hy charge en in die wind ingehardloop met die swaard van hom.  Dit was ook pret om skuimbolle te jaag wat deur die wind aangejaag word.  Dit het gevoel of ons verskriklik stadig stap vandag en dit was baie harde werk so teen die wind.
Afstand:  6.2 km vandag gestap (en nog 2.6 km voor Natalia waar ons al baie gestap het tel ook)
Tyd:  3 ure
Spoed:  2 km/uur
Riviere:  4

Sunday, September 16, 2012

Dag 21: Umkomaas, 10 Augustus 2012

Dit lyk my die helfte van Durban het vrouedag berge toe gery om sneeu te kyk en die ander helfte was op die lughawe om Chad le Clos terug te verwelkom.  Ons het beplan om te gaan stap.  Ons was bietjie stadig uit die blokke en het toe eers die 10e Augustus gaan stap. 

Ons wou vir die naweek Suidkus toe gaan, ‘n nag iewers oorslaap en twee dae stap.  Ons kon nie blyplek kry nie en was nie lus vir kamp in die koue nie.  Toe besluit ons om maar by die huis te slaap en steeds te gaan stap.  Ons probeer ook ‘n nuwe ding die keer.  Ons ry ‘n fiets in die kattebak saam, los die fiets by die eindpunt en Francois ry met die fiets terug na die kar. 
Ons was al baie in Umkomaas.  Dis waar die bote te water gelaat word om by Aliwal Shoal te gaan duik.  Ons was nog nooit op die strand by Umkomaas nie.  Ons jaag net altyd vroeg na die duikskool, kry ons toerusting, klim op ‘n bakkie, dan op ‘n boot en jaag oor die branders diepsee toe.  Vandag sien ons nou die strand. 
Ons los die fiets vasgesluit teen die heining waar die duikers se bote te water gelaat word.  Daar sit ook ‘n vriendelike wag in ‘n huisie.  Ons neem aan die fiets is veilig.  Toe ry ons tot by Umgababa, daar is ‘n groot parkeerterrein en los die kar.  Ons stap vinnig en voorspoedig, vir omtrent 20 minute.  Toe is daar ‘n rivier voor ons wat stadig vloei en nie na baie lyk nie, seker so 5 m breed op plekke, en dalk net 2 m breed waar dit die see ingaan.  Francois probeer deurstap en is tot by sy middellyf nat voor ons besluit om dit nie te doen nie.  Dis ysig.  Ons stap toe ver terug en klouter teen die treinbrug op, gaan op die brug oor en stap om die laguun.  Die hele oefening moes seker ten minste ‘n halfuur gevat het.  Dis pragtig en ek skat die gesukkel is wat die avontuur maak.  Gelukkig kom daar nie ‘n trein verby terwyl ons op die brug is nie. 
Daarna druk ons deur en stap baie vinnig tot by ‘n groot wit huis ver op die horison.  Kilometers. 
Hier rus ons en eet al ons kos op.  Hierna is die rugsak nogal baie lig.  Die seuns geniet die walle sand vreeslik baie.  Daar is een baie hoe een waar hulle oor en oor afspring.  Hulle is baie opgewonde daaroor en se dit is die beste ding ooit.  Hulle karring baie aan ma om dit ook te doen.
Ons sien modelvliegtuigies, drie van hulle.  Hulle vlieg nogal baie hoog. 
Dit is ‘n baie stil stuk strand.  Ons sien nie eintlik ander mense nie.  Dit is ook nie eintlik moontlik om met ‘n kar hier te kom nie.  Jy sal moet stap.  Ons kleinste maak klippe bymekaar, ‘n groot sak swaar klippe wat hy aandra. Dis swaar.  Ons oudste het ‘n redelike groot krap gevang en na ‘n rukkie het die krap genoeg gehad en hom met sy knyper geknyp.  Hard.  Dit het vasgesit en hy het geskud en getrek en gesukkel om die ding af te kry.  Dit het baie seer gelyk.  Daar was bloed en ‘n baie groot skrik. 
Ons is baie vinniger by Umkomaas as wat ons verwag het.  Ons het die afstand met die kar op die pad gemeet en dis amper 2 km korter op die strand.  Ons is dus effe verbaas toe ons by Umkomaas kom.  Pa kry die fiets en ry 9 km (met ‘n redelike klomp op en afdraandes) terug na die kar.  Ma en kinders bly op die strand.  Hulle spring eers lank teen die hoe snadwalle af.  Toe stap ons na die rivier, waar ons baie lekker in die koelte onder die brug sit.  Heerlik om uit die son te kom.  Ons kyk hoe bote vol duikers inkom, die seuns klouter teen de brug se pilare rond en ma rus uit die son uit.  Pa het glad nie sleg gedoen nie, en laat weet ons na omtrent 45 minute dat hy by die kar is.
Ons wag vir hom net voor die brug, ry oor die brug en stap na die brug tot by ‘n restaurant (Waves), waar pa solank vir ons wag.  Ons bestel melkskommels, chips en hamburgers.  Die kos was nogal lekker, of ons was net so honger dat enigeiets sou lekker wees.  Hulle het baie lekker ‘Adult milkshakes’, glad nie sleg nie.  Na die etery stap ons nog so 1 of 2 kms en ry huis toe.
Ons hond het saamgestap.  Hy is ‘n baie goeie bergklimmer, maar hou nie van water en die see nie.  Ons het hom tot nou toe altyd deur riviertjies gedra en wou vandag kyk wat hy doen as ons hom nie deurdra nie.  Ons los toe die hond aan die oorkant van ‘n 2 m wye baie vlak rivier.  Hy tjank en hardloop heen en weer en gee toe een reuse sprong tot amper aan die oorkant.  Hy was so trots op homself dat hy kon deurkom.




Afstand:  9.7 km
Tyd:  4 ure se stap, langer dag as mens die uiteet (wat lank was) bytel
Riviere gekruis:  4 (2 groot)