Uiteindelik! Ons stap weer. Februarie was net te warm!
Ons stap ‘n kort stukkie vandag, 4.5 km van Virginia lughawe na Blue Lagoon. Ons gaan eers na kerk en weet dat ons oor die warmste deel van die dag stap, maar dis al wat ons kan doen. Ons ry met twee karre en los een kar by die begin en een by die einde. Mens kry maar soms klein stukkies genade ook. Ons is reg om te begin stap, toe ek teruggaan om my bestuurslisensie uit die kar te haal en saam te vat. En daar, op die sitplek, lê die sleutel van die kar wat ons by die einde gelos het. Oeps. Dit kon ‘n groot fout gewees het.
Ons begin 11:19 stap. Ja, dis warm. Ons stap lekker en gesels. Ons doen die eerste kilometer in omtrent 20 min. Die strand is ongelooflik vuil. Ons het nog nooit op so ‘n vuil strand gestap nie. Veral allerhande soorte plastiek goed lê rond. Alhoewel dit mens geweldig hartseer maak, het dit ook die kinders lekker besig gehou. Dit was soos ‘n skattejag. Ons sien (en tel soms op): Baie tennisballe, ‘n baie lang dik pyp, ‘n vuvuzela, ‘n stukkende strandsambreel, ‘n buitekant van ‘n rekenaar tipe ding wat soos ‘n boks lyk met ‘n venster, ‘n halwe kano, ‘n resies helmet, ‘n resieskar se band, ‘n groot plastiekskêr, ‘n goeie knee pad vir rolskaatsry. Nader aan die rivier mond is daar soveel gemors dat mens dit met ‘n stootskraper sal kan optel. Ons was nog nooit voorheen hier nie, maar ek hoop die baie gemors kom van die twee storms en vloede wat ons in die laaste maand gehad het. Ons is omtrent 1:30 by Blue Lagoon. Op daardie stadium is ons water amper op, ons is moeg en warm en ek het definitief genoeg son gehad.
Ons het Blue Lagoon so effe onderskat. Gedink dis net ‘n smal stukkie water by die mond, maar dit was ‘n dieperige rivier van omtrent 5 m. Ons sou moes swem. Ons het nie swemklere aan nie en is nie lus om nat te word en ons rugsak nat te kry nie. Ons draai dus om en probeer ‘n manier kry om oor die brug te stap. Dit bring 1.3 km ekstra stap.
Een van die spesiale plekke in Durban is die Beachwood Mangroove. Dit is ‘n klein natuurreservaat met boardwalks, mangroove (mangliet) bome en klomp klein krappies. Ons geniet dit altyd. Dit is egter net een Saterdag per maand oop, so ons weet dit is vandag toe. Wat beteken dat dit waarskynlik teen een of ander reel is as ons daardeur stap. Dit is egter die enigste manier om by die brug uit te kom. Die enigste ander manier om van die strand af te kom is om al die pad terug te stap. Daar is geen ander strandtoegang tussen hier en waar ons begin het nie. Ons stap toe terug verby die lagoon na die Mangroove forest en stap deur ‘n vlak sytak van die rivier (ons is nat tot by ons bobene). Oorkant die rivier is die eerste mangroove bome. Ons sien die lig van karre weerkaats in die parkeerterrein. Ons is dus redelik seker dat daar mense in die reservaat is. Ons stap op die boardwalks en kom in die middel van ‘n Durban North Ranger party uit. Oeps. Dit lyk soos ‘n braaivleis. Ons wonder hoe ons gaan verduidelik wat ons hier soek. Ek oefen baie hard aan my onskuldige gesig. Maar niemand kyk na ons of praat met ons nie. Ons stap vinnig verby al die mense, deur die parkeerterrein en by die hek wat oop staan uit. Dis ‘n geluk!
Daar is trappe wat na die brug gaan en ons stap oor die brug tot by Blue lagoon. Die brug het ‘n voetganger laan wat afgesper is van die karre en behalwe dat die verkeer erg raas is dit nogal opwindend en mens kan mooi sien van die brug af. Ons kyk af op die Mangroove bome.
Ons het ‘n piekniek agter in die kar wat by die eindpunt wag. Ons sit onder die skadu bome en eet lekker piekniek saam met die ander families. Blue Lagoon (wes van die brug, weg van die see) is eintlik ‘n baie, baie aangename plek. Daar gaan baie aan. Karretjies wat roomys en ander eetgoed verkoop, ‘n vlooimark met stalletjies in die parkeerterrein, fietse en trapkarre te huur, mense wat braai en rus en speel en visvang. ‘n Baie, baie lekker dag. ‘n Redeleike vervelige stuk strand wat in ‘n groot avontuur ontaard het toe ons moes uitvind hoe om weer by die pad terug te kom. Ons kleinste was so opgewonde toe ons op die brug kom, niks soos ‘n bietjie adrenalien nie!
Afstand wat tel: 4.5 km
Totale afstand gestap: 5.8 km
Tyd gestap: 3 ure
Riviere oorgesteek: 1
Tiaan was baie beindruk met die groot plastiek sker. Ma probeer nog wonder hoekom enige mens so iets sou vervaardig |
'n Halwe kano op die strand |
Dit lyk nie na veel van die kant nie: Die opwindende Beachwoon Mangroove forest |
'n Resies helmet en resieskar se band op die strand gevind |
Ons moet regtig werk aan ons onwilligheid om deur klein riviere te swem. Die stuk van Blue Lagoon wat ons gekeer het. |
![]() |
Die brug oor Blue Lagoon |
![]() |
Durban se skyline |
Die baie baie gemors op die strand |
Die syriviertjie waardeur ons is |
Bo-op die brug met Blue Lagoon in die verte |