Friday, January 6, 2012

Dag 13: 27 November 2011; Durban se Promenade

Ons ry Sondagmiddag fiets; op die promenade in Durban.  Net voor die sokker wêreldbeker het Durban ‘n breë geplaveide promenade gekry van Blue lagoon tot Ushaka.  Ons is gereeld op stukkies van die promenade, maar het nog nooit die hele lengte van die promenade gestap nie.  Vandag is die dag.  Ons word by Blue Lagoon afgelaai en ry van daar tot by Ushaka.  Ek het nooit besef die ‘Golden Mile’ is so kort nie.  Die hele stuk pad is maar 6 km, en dit is basies die lengte van die hele middestad van Durban.  Ons het nie eintlik op ons horlosies gekyk nie, maar hetomtrent die hele stuk pad in ‘n uur gedoen.

Dit was uitstekende mense kyk, terwyl jy op die fiets sit en alles by jou verbyskiet.  Wat ons gesien het:
  • Vryers hand aan hand
  • Fietsryers – groot en klein, met en sonder fietsryhelmets, selfs een dogtertjie op ‘n helder pers skopfietsie en nog een met oefenwieletjies
  • Zulu dansers met dromme
  • Toeriste met kameras en groot oë
  • Witgeverfde mimes, ook Zulu seuns wat standbeeld speel met wit gesigte
  • Vlieërs, en die groot vlieërs in die see van ‘kite surfers’
  • Mense op skaatsplanke
  • COP 17 boom en COP 17 toeriste
  • Roomyse
  • Die pretpark met die kabelkarretjies
  • Karre wat in die verkeer vassit en stadiger as ons ry of sukkel om parkeerplek te kry
  • Swemmers en branderplankryers
  • Sandkasteelbouers op die strand – hulle het ook die COP 17 boodskap oorgeneem
  • Bondeltjies tieners wat op die gras lê en met hulle telefone speel
  • Bondels mense wat na die vermaakkunstenaars kyk
  • Rikshas
  • Swemmers
  • Kinders in die swembadjies
  • Scuba duikers met al die toerusting in die swembad
  • Polisiemanne op perde
  • Jetties
  • Casino en restaurante
  • Curio verkopers
  • Toue mense by Ushaka mariene park
  • Skepe op pad na die hawe

Daar is nogal baie mense wat oral is en soms moet mens nogal tussen die mense deurkoes.  My klein seuntjie se kommentaar was dat mens nogal goed moet wees met ‘dodging’.  En dis waar, dis redelike plat wêreld, mens ry dus maklik, solank jy nie in mense vasry nie.
Ons toerusting het ons so effens in die steek gelaat.  Die seuns het elkeen ‘n fiets gehad en ma het op pa se ou fiets gery – en ‘n pap wiel gekry teen die einde.  Pa het ons met die kar gevolg en basies nooit gesien nie, net by die einde gekry.  Ons kamera was by pa en ons het niks foto’s geneem nie.  Dis in elk geval moeiliker om foto’s te neem op ‘n fiets as wanneer jy stap.  ‘n Baie, baie lekker uitstappie.  Ek sal dit baie sterk aanbeveel vir enige toeris aan Durban.  Die vinnigste, maklikste 6 km wat ons nog gedoen het. 
Afstand: 6 km
Tyd:  omtrent 1 uur
Pret: Baie

No comments:

Post a Comment