Ons het die voorreg van ‘n geleende huis aan die Suidkus vir die eerste week van Januarie en gebruik die geleentheid om Suid te stap. Ons is almal maar effens moeg so vroeg in die nuwe jaar en staan 5 uur op om 6 uur uit die huis te wees om 7:11 by die beginpunt te staan.
Ons begin vandag in die Oos-Kaap, langs die Umtamvuna rivier nadat ons eers die mooi brug oor die.rivier bewonder het. Ongelukkig verdwaal ons so effe in die parkeerterrein van die Wild Coast Sun (Ja, ek weet !!) en vat baie lank om agter te kom waar ons kan parkeer om by die rivier uit te kom. Al die personeel wat daar werk vertel vir ons dat dit 9 uur oopmaak. Dis jammer, want 7:00 is baie lekkerder as wat 9:00 gaan wees. Ons kry uiteindelik ‘n parkeerplek, stop en stap tussen mooi bome met trappies af na die rivier. Daar is ‘n winkeltjie, stoele en ‘n jettie om by ‘n boot uit te kom. Ons blaas ons crock op en gebruik die hotel se jettie om in die water te kom. Ons roei in twee groepe oor die rivier. Baie opwindend. Uiteindelik begin ons teen 7:37 stap. Die roeier pa en twee van die kinders (een siek en een met ‘n seer voet) roei weer terug oor die rivier en dra die boot terug kar toe terwyl ons stap.
Dis baie rotserig hier en ons stap lekker. Dis mooi. En dis warm. En dis nog nie eers 8:00 nie. Na minder as ‘n uur kry ons die res van die groep wat die boot teruggedra het kar toe. Ons eet spanspek in die koelte by die kar. Ons het regtig groot planne vir vandag gehad, maar ons besef almal vinnig dat die hitte dit gaan moeilik maak. Ons besluit om 11:00 uit die son te wees.
Teen 10:00 stap ons naby die Port Edward vuurtoring verby. Die een dogtertjie begin oor haar voet kla, ek onthou dat daar ‘n koffiekroeg by die vuurtoring was en die een helfte besluit om daar op te hou en by die koffiekroeg te wag. Die pa sal terugstap na die kar toe en almal kom oplaai. Dis omtrent 10:00. Die ander gesin stap verder. Ons stap stadig. Dis warm en daar is baie groot rotse waaroor ons klouter en wat ons stadig maak. Ons stap verby ‘n groot poel en besluit dat ons beslis moet afkoel. Ons klim almal in die water en hang basies net in die water. Dit is wel baie lekker om bietjie af te koel. Ons doen die verstommende afstand van 900 m voor ons opgelaai word, omtrent ‘n uur later. Die hitte het ons beslis gewen vandag.
Vandag is daar baie verskillende afstandedeur die groep gedoen. Ons het almalby die Wild Coast Sun begin en saam die boot teen ‘n klomp trappies afgedra. Ons is toe almal oor die rivier. Die een roeier pa en twee kinders is toe terug kar toe en het na ‘n punt omtrent 2.5 km verder gery. Daar gekom het hulle ‘n paar 100 m gestap tot waar hulle die res van ons ontmoet het. Hulle het dus sekere stukke twee maal gestap en ander dele glad nie gestap nie. Aan die einde het die een gesin na die Vuurtoring gestap en is daar opgelaai terwyl die ander gesin omtrent 900 m om die draai gestap het tot war hulle opgelaai is, met die siek seun.
Ons het die res van die dag uit die hitte en die son gebly – die vakansie huis en die swembad geniet. Laatmiddag het die een ma en pa langs die see gaan stap, en alleen die verstommende afstand van 3.1 km in ‘n uur gedoen. Ons het in Southbroome gestap, langs die gholfbaan, wat mens glad nie van die strand kon sien nie. Ons het met sonsondergang gaan stap, dit was lekker koel, met die son reeds weg van die strand en ‘n lekker koel briesie. Daar was een lang sandererige strand, ‘n paar rotserige stukke en een of twee mooi, klein strandjies. Dis ‘n lekker tyd van die dag om langs die see te wees. Ons stop by ‘Granny pool’, ‘n getypoel gebou in die rotse. Sommige dele was ons die enigste mense op die strand – vreemd vir die tyd van die jaar op so ‘n gewilde vakansie plek. Plek-plek, veral by die gholfbaan, was daar baie stappers en baie mense wat met hulle honde gestap het.
Afstand: 5.6 km
Tyd: 4 ure (‘n halfuur minder as mens nie die bootry bytel nie)
Aandstap:
Afstand: 3.1 km
Tyd: 1 uur
Brug tussen KwaZulu-Natal en Ou Transkei |
Ons kruis die groot rivier |
Silwer lig op die water |
Die Wild Coast Sun in die verte |
Port Edward se vuurtoring |
In Port Edward - naby die einde van die dag |