Sunday, September 25, 2011

Dag 8, Ushaka

Ons is vandag see toe om 'n bietjie te gaan swem.  Ons was heeltemal te lank laas in die see.  Ons geniet die strand voor Ushaka, Vetch's Pier.  Daar is lekker parkering by Ushaka, winkels naby vir roomys, en 'n redelike stil strand, met beskerming van die hawe, so die branders is kleiner.  Lekker vir die kinders.

Toe ons uit die kar klim, waai 'n wilde woeste wind.  Ons los toe maar die snorkelgoed in die kar.  En toe ons op die strand kom is daar meer bloublasies as waterdruppels in die see.  Hulle het sommer sulke strepe op die strand gele.  Ons wil toe nie swem nie, maar ons is nou op die strand.  Toe stap ons maar.  Van die kaai voor Ushaka tot teen die hawemuur, en terug.
Dit was 700 m soontoe en 700 m terug.  Ons kan dus nie eers 'n kilometer afmerk nie.
Dit was net ons gesin van 4.  Daar is ook geen foto's nie, aangesien ons eintlik net beplan het om te swem en die kamera by die huis gebly het.  Heel suid teen die hawemuur het mens 'n mooi foto geleentheid van Durban se Goue Myl, met die Moses Mabhida stadion heel regs.  Ek is jammer ek het nie 'n kamera of eers 'n selfoon daar gehad nie.  Ons gaan skuil toe vir die wilde wind in die Moyo restaurant op die kaai.  Het 'n heerlike cappucino in die funky restaurant.

Ons was stil met die stappery, maar beplan groot dinge vir die skoolvakansie.

Vandag se afstand:  700 m
'n Foto wat in 2007 geneem is by Ushaka se kaai.  Vandag het baie anders gelyk.  Die strand was verlate, dit was winderig en moenie die hope bloublasies vergeet nie.  Daar is ook nou 'n groot sokkerstadium wat nie op die foto is nie.  Ons eht ongelukkig nie vandag 'n foto geneem nie.
Tyd:  Geen idee, maar seker 'n halfuur of so.

Monday, September 5, 2011

Dag 7: 21 Augustus, Tinley Manor Beach tot Sheffield Beach

Ons ontmoet mekaar 1:15 op die N2 en ry noord.  Vandag bestaan die geselskap uit 5 volwassenes en 5 kinders.  Dis die gewone 8, plus een oupa en nefie.   Ons begin 1:40 stap by Tinley Manor.  Die plan was om 4 km suid te stap en by die gestrande skip te eindig (sien meer oor die skip hier.)  Ons het ook vandag die luukse van ‘n oplaai en aflaai voertuig deur die familie in Ballito.  Dit maak regtig alles makliker.  Na omtrent  een km se stap, stap ons deur Tinley Manor.  Oeps !  Ons stap dus 1 km meer as beplan.  Daar is hoë walle sand waarteen die seuns speel.  Hulle kan net nie ‘n afgly teen ‘n wal weerstaan nie, en hierdie walle is besonder goed.
En toe kom ons te staan voor ‘n onkruisbare rivier.  In elk geval onkruisbaar as jy nie wil nat word  nie.  Verskeie opsies word ondersoek.  Terwyl die grootmense almal vir die rivier staar, speel die kleinste seuns in die vinnig vloeiende rivier water net voor dit in die see spoel.  Dit word vinnig gestop.  ‘n Roete deur die see word ondersoek.  Een van die pa’s se pa (wat vir die eerste keer saam met ons stap, maar ‘n gesoute stapper is) kry ‘n gangbare roete deur.  Die water kom tot bo ons knieë, maar onder ons middels en is nie so sterk dat dit jou omspoel nie.  Ons kom maklik en dramaloos deur.  Ons het ‘n klomp selfone en ‘n kamera en kar immobiliseerders by ons.  Miskien moet ons in die toekoms waterdigte houers kry om ons elektronika droog te hou.  Die kinders is oor deur een-een ‘n volwassene se hand vas te hou.  Ons pa moes twee maal deurgaan.  Een keer met die duur elektronika en toe met die rugsak en hond.  Die whoozz kan, of wil nie, swem nie. 
Ons sien die skip van ver.  Ons stop ‘n paar keer vir padkos.  Die familie in Ballito het padkos ingepak.  Die ma wat ingepak het, het nie saamgestap nie en mens kan sien dat sy nie beplan het om te dra wat sy ingepak het nie.  Daar is broodjies en fikkadelle en bottels en bottels koeldrank. Heerlik, maar swaar en seker nie regtig nodig nie, aangesien ons net na middagete gaan stap het.  Ons kla nie, dit was heerlik. Dankie !!
My seuntjie hardloop stukke, val dan plat neer en lê ‘n ruk voor hy weer verder hardloop.  Ek kyk ‘n rukkie na hom en gaan toe soontoe om hom aan te jaag.  Sy storie is toe dat hy agter ‘n blaar aanhardloop.  As die blaar stil lê, dan lê hy en as die wind die blaar gryp dan hardloop hy.  Daar is redelik baie wind, gelukkig van agter.  Hy stap stukke vinniger toe sy ma die die blaar optel en in die wind gooi elke keer as die blaar gaan lê.  Die goed wat ‘n 7-jarige brein besig hou.
Uiteindelik kom ons noord van die gestrande Phoenix uit.  Die foto’s uit die noorde lyk maar baie soos die foto’s uit die suide.  Ons kry die wag oortuig om ons deur die barrikade te laat stap.  Hy laat ons nie na die oorkant deurstap nie, maar laat ons net tot by die naaste stel trappe stap waar ons opklim na die pad.  Ons stap baie ver, met ‘n redelike ompad na die polisie barrikade waar ons oplaai voertuig wag.  Dis Sondagmiddag en daar is baie mense op die paaie.  Sowaar ‘n gewilde Sondagmiddag aktiwiteit. 
Ons kom net na 5 by die familise se huis, waar almal besig is om teen verstommende spoed kos te maak sodat vas gebreek kan word teen 5:37.  Daar is een Moslem familielid en dit is Ramadan.  Ons eet almal saam, ‘n lekker Sondag middag ete met poeding.  Na ete jaag ons terug huis toe.  Dis ‘n laat Sondagaand vir mense wat more moet skool toe gaan. 

Dit was ‘n lekker dag se stap op ‘n mooi plek.  Ons het dit baie geniet en almal maklik gestap.  Ballito is tot dusver die mooiste deel van die kus.  Stappe soos vandag maak op vir verveliges soos die een op Dag 4.
Naskrif:  Sondagaand begin ons hond hoes.  Die vreemdste geluid wat klink of hy verwurg word.  G’n mens kan daardeur slaap nie.  Die veearts diagnoseer hom met “Kennel Cough” en na baie geld maak antibiotika weer alles reg.  Hy het waarskynlik by ‘n ander hond op die strand aangesteek.  Tel dit nou as 2 doktersbesoeke gekoppel aan stap?
Ons spring van die walle af

'n Rivier voor ons, wat nou?

Die rivier waar ons moet deur

Kan ons seelangs deur die rivier kom?

Eerste verspieder amper deur die rivier

Almal veilig en redelik droog aan die ander kant

Stap !

Skip le net om die draai

Mooi rotsformasies

Die Phoenix bo van die pad af

Skip op die rotse

Snaaksie