Kampeerterrein, met net ons tentjie |
Ons is Suidkus toe vir die langnaweek. Saterdag was die weer goor. Ons ry toe eers Sondag, sonder 'n bespreking. Ons het 'n paar woonwaparke gebel deur die week; die meeste antwoord nie hulle telefoon nie; een was erg duur (regtig, soveel geld vir 'n kampplek buite seisoen?) en een wou nie'n bespreking neem nie, hulle sê ons moet net kom daar sal plek wees (Hulle is ook nie regtig goedkoop nie). By Southport aangekom stop ons by 2 plekke om slaapplek te vra, maar albei is vol. Oeps. Ons sien 'n advertensiebord vir 'n plek wat ons nie probeer bel het nie (Klein Paradys), ry soontoe en kry 'n kampplek. Vir R100 per nag. Dis mos nou meer hoe 'n buite seisoen tarief moet lyk. Die eienaar is baie vriendelik. Hulle het nie kampers verwag nie en die kampterrein is nie skoongemaak nie, waaroor hy baie apologeties is. Die plek is nie baie vuil nie. Die gras kort ‘n sny en die badkamer lyk soos badkamers lyk as hulle lank toe gestaan het. Ma en seuns slaan tent op terwyl Pa gaan vorms invul en betaal. Later, toe ons terugkom na 'n lang dag se stap, is die gras gesny en die badkamer skoon. Die interessante ding van die kampterrein is dat elke kampplek sy eie badkamer kry wat kan toesluit. Oulike idee. Daar is geen sand nie, die hele plek is dik groen gras. Ons hou van Klein Paradys. Maar wees gewaarsku, ons standaarde vir kampterreine is laag.
www.klein-paradys.co.za
Ons moet bieg en verskoning vra. Ons het langs die see gaan stap, sonder ons vriende. Vriende, as julle hier lees voor ons met julle kan praat, ons vra om verskoning. Ons het Suidkus toe gekom vir die naweek, besef dis te koud vir swem, nie mooi geweet wat om te doen nie en toe ons weer sien, stap ons.
Die Here het klaar blyplek voorsien. Ons tweede problem is hoe ons weer by ons kar gaan terugkom aan die einde van die dag. Omdat ons alleen hier is het ons nie 'n tweede voertuig om ons op te laai nie.
Ons begin 10:08 die oggend stap. Ons stop op 'n klein straatjie net suid van Port Shepstone. Daar staan 'n paar karre in 'n parkeerterrein met vissermanne op die strand. Effe verlate. Dit is naby ‘n klomp rotse wat Potweni rocks genoem word. En ons stap, lekker.
Tiaan is 'n regte Strandloper. Hy maak goeters op die strand bymekaar so ver as wat hy stap. Hier is 'n klompie rotse in die see en op die strand lê baie seegras, mooies, en stukke kreefskelette sonder die sterte. Hy tel woes op. Ons besef dat ons eintlik vir die kind 'n sak sal moet saamdra om goeters in op te tel.
Daar is 'n mooi wit verweerde boomstomp op die strand. Francois stel voor ons neem 'n familiefoto op die stomp en daarna dring Tiaan aan op 'n foto op elke wit stomp wat hy sien. Ons het nou baie fotos van ons op wit stompe.
Die seuns stel in alles belang en ondersoek rotspoele, riviere, alles wat op die strand lê. Dit maak hulle baie stadig. Ons kom met 'n skok agter dat ons net 1 km in die eerste uur gestap het.
Dit is Sondag vandag en ons stap verby 'n Hindu gesin wat 'n kleurvolle offer te water laat, met die reuk van wierook in die lug, en 'n klomp Sioniste in groen, swart en wit geklee wat lede in die see doop.
Na wat soos 'n ewigheid voel kom ons by die Port Shepstone vuurtoring. Dit word meestal deur ruie plante weggesteek aan die see se kant. Net na die vuurtoring is 'n groot rivier, regtig groot, wat ons moet oorteek, die Mzimkulu. Daar sit heelwat vissermanne langs die see en langs die rivier. Die rivier het 'n baie groot brug en ons probeer reg onder die brug kruis. Ons kies die smalste, stilste deel van die rivier ‘n entjie voor die brug. Dit lyk maklik. Pa probeer. Hy is tot by sy knieë, in die water, toe sy middel en toe hy nog 'n tree gee is hy pens en pootjies in die water. Hy spartel terug wal toe en ons besluit om maar die brug te probeer, dit is mos hier. Pa droog sy klere uit, die seuns speel bietjie in die water en ons mors seker omtrent ‘n halfuur by die rivierkruising. Ons klouter teen ‘n steil wal uit na die brug en stap toe maar op die teerpad op die brug oor die rivier. Dit is nogal ‘n lang brug, 360 m lank.
Na die brug stap ons op ‘n reguit strand met min afwisseling. Ons probeer bietjie tyd opmaak. Ma en Pa vat elkeen ‘n kind se hand en stap vinnig. Dit werk en ons kan dit vir omtrent 900 m doen, waarna ons hulle weer op hulle eie spoed laat rondspeel en tyd mors.
Aan die einde van die dag, 4 uur, want ons weet nie hoe lank ons gaan sukkel om weer ons kar te kry nie, verlaat Pa die res van die gesin. Ons sit op 'n sementblok langs 'n pad saam met 3 swart mense en 'n baba. Ons eet en drink iets, Pa los die rugsak en vat net die nodigste - geld, selfoon, water en karsleutels. Hy het streng instruksies om elke 20 min vir Ma te laat weet dat hy OK is. Ons vra die swart mense waar hy 'n taxi kan kry. Net hier teen die straat op, en hulle wys vir hom die teken vir Port Shepstone, ‘n vinger wat af wys.
Die seuns is moeg en nie baie gretig vir verder stap nie. Ons sit nog 'n rukkie, eet (om die sak ligter te maak) en net voor ons stap klim 'n man uit 'n kar met 'n luislang. Hy sê die is 13 maande oud. Wow! Die kinders maak ook nie altyd vir my sin nie. Hulle kla dat hulle moeg is, maar loop draaie agter goed aan en dra sulke swaar goed met hulle saam. Hulle tel ‘n groot bamboes op en klomp harde vruggies wat hulle daarin sit. Die ding word saamgedra. Hulle laat lê dit waar ons vir Pa groet en onthou na ‘n rukkie weer daarvan. Ons gaan haal dit na ons die kar het, dit is darem nog daar.
Ons stap nog omtrent 1 km. Dis lekker. Die son is agter die duin, die strand word in sagte lig gebaai, daar is skielik weer baie mense op die strand; ouerige pare wat stap, 'n klomp jongmense (matrieks?) met 'n ouer man wat vuur maak langs die see. Pa se SMSe begin inkom "Ek het 'n taxi gekry". Ons stop baie, rus en eet. Die kinders is moeg.
Ons kom by die beplande einde waar Pa ons moet kom oplaai. Daar is mooi rotse wat in die see in loop. Heelwat mense loop hier rond en 'n visserman of 2 maak lyn nat. Die seuns speel in 'n hoë rots waar hulle opgewonde 'n “bed” ontdek. Pa kry ons teen 5:55. Ons is baie trots op onsself. 'n Goeie dag se stap. En ons kon weer by ons kar uitkom ook!
Pa het maklik 'n taxi gekry en tot in Port Shepstone gery, maar ver van die kar uitgeklim toe die taxi in die dorp in ry en nie meer seelangs nie. Hy het 3 km gestap, die kar gekry en ons kon haal. Die Here het voorsien in die tweede ding; ons kry weer ons kar.
Die aand braai ons vleis en drink 'n Baronne. Man, dis lekker. Ons is alleen in die kampterrein, sien en hoor apies in die bome en sien vlermuise oor ons vlieg. Ons kan sien hoe apies ver van boom tot boom spring. Die eienaars se twee honde Patayo en Blackie (swart worsies) maak vriende met die seuns en speel te lekker. Hulle gee nie om om rondgedra te word nie. Ons klouter teen 7:30 in die bed en slaap baie lekker met die geluid van die see in ons ore en ons seuntjies reg langs ons.
Die seuns het so lekker met die twee worshondjies gespeel, as hulle nog nie ‘n hond gehad het nie sou ons na die naweek een gekoop het.
Statistiek
Tyd: 10:08 tot 5:38; 7 uur en 30 min
Afstand: 10.7
Spoed: 1.47 km/uur
Spoed: 1.47 km/uur
Aantal stappers: 4
Stroompies oorgesteek: Meer as wat ons kan onthou
Riviere oorgesteek: 1 (op ‘n brug)
Aantal fotos van gesin geneem op ‘n boomstomp: 5
Aantal nagte oorgeslaap: 1
Gety poele: 5
Vuurtorings: 1
Afstand gery: 248 km
Net nadat ons begin het, die Potweni Rocks. Die seuns het so baie goed hier op die strand opgetel |
![]() |
Die eerste gesinsfoto op 'n stomp, daar was nog baie |
Hulle speel in elke enkele riviertjie |
Lyk die man nie soos 'n breker nie? Of 'n dapper stapper. |
Die familie. |
Een van die goed wat die seuns 'n hele entjie saamgedra het. En toe langs die pad laat le het toe pa die kar gaan haal het. |
Patayo, die hond by die kampterrein wat graag met kinders speel |
Sonsondergang aan die einde van die dag |
No comments:
Post a Comment