Monday, August 29, 2011

Dag 6; 8 Augustus: Southport tot Umzumbe (of Noord van Port Shepstone tot suid van Hibberdene)

Southport tot Umzumbe
Ons begin weer 9 uur stap.  Die manne het laat geslaap.  Dit sê baie van ons organisasie dat ons amper ewe laat begin stap as ons net 10 km ver slaap as wanneer ons meer as 100 km moet ry.  Ons begin presies stap waar ons gister opgehou het, om die waarheid te sê ons spandeer heelwat tyd om terug te stap tot by die rotse waar die kinders gisteraand ‘n “bed” ontdek het sodat hulle weer daarin kan speel.  Ek het gedink dit sou ok wees om sommer net aan die ander kant van die rivier te begin.  Maw meer as ‘n halfuur na ons begin het is ons waar ons wou begin. 
Vandag se stap is effe harder werk as gister.  Na omtrent 3 km is ma reg om op te gee.  Ma besluit ons moet darem ten minste net 6 km stap en probeer net uithou vir nog 3 km.  Ons is seker maar effe moeg na gister, is die tweede dag van ‘n staptoer altyd harder werk?
Hier is baie getypoele om in te speel.  Die strande is ook stller as wat hulle gister was.  Die seuns swem in ‘n getypoel, maar waad ook maar effe versigtig.  Dis net te koud om regtig te swem.  Hier is ontelbaar klein riviertjies wat in die see uitloop.  By die meeste word net jou voete nat, soms kan jy sommer net oor dit spring en twee kan ons droog oor rotse kruis, as dit nie vir die rotse was nie sou ons redelik nat geword het. 
Die seuns ontdek swart pitte van een of ander vrug waarmee hulle speel.  Dis klein harde balletjies en hier is baie van hulle.  ‘n Omie op die strand vertel dat mens hulle kan oopsny en die binnekant is wit en hard en hulle het as kinders goed daaruit gekerf en gemaak of dit ivoor is.  Die seuns speel in ‘n riviertjie met die balletjies.  Gooi hulle in en kyk hoe vinnig hulle spoel.  Hulle hardloop agter die balle in die rivier aan.  Dit nadat ons moeite gedoen het om droog oor die rivier te kom.
Ons stap vreeslik stadig en doen omtrent ‘n km per uur.  Ons kry ‘n manier om te vorder.  Ons kies ‘n baken iewers voor op die strand, vat elkeen ‘n kind se hand en stap vinnig sonder om links of regs af te draai tot ons by die baken kom.  Op die manier doen ons omtrent 800 m in 15 min.  Na die spoedstap karring ons minder aan die kinders en laat hulle toe om meer te speel.  Hulle kry oral goed wat hulle aandag aftrek en hulle tot stilstand bring.  Ons stap nie so stadig as ons stap nie, ons stop net so baie om te speel, swem, na goed te kyk, in riviertjies op te stap.
Ons het die twee dae nie baie water saamgedra nie, want ons is die heeltyd in die beskawing en het gedink ons kan sommer maklik by toilette volmaak.  Toe ons water wel begin opraak kom ons agter dat die toilette en krane ook nie so algemeen is nie.  Ons kry darem nuwe water voor alles op is.  Ons het een plek langs die see heerlike roomys gekoop en daar op die strand geëet. 
My jongste seun speel met ‘n plastieksak.  Die wind ruk die sak uit sy hand en dan hardloop hy meters, seker maklik 30 plus terug in die rigting vanwaar ons gekom het.  Net voor dit moes ek baie hard aan hom karring om hom te laat stap en ek wil nou sommer huil as ek sien hoe hy nie een keer nie, nie twee keer nie, maar baie kere sy energie mors deur heen en weer te hardloop.  Hoekom is dit lekker om heen en weer te hardloop, maar nie lekker om in een rigting te stap nie ?
Ons het nooit nodig om op rotse te stap nie, maar hier is baie rotse.  Dit is goed, want dit is mooi om na te kyk en gee die kinders iets om te doen.  Hulle stap baie beter met rotse as daarsonder.
Ons stap by ‘n ou geroesde ding in die see verby.  Dit het ronde ratte en lyk vir my soos ‘n ou trein, maar ons het geen idee wat dit is.  Dis naby ‘n riviermond waar bote te water gelaat word.  Het dit dalk iets daarmee te doen?  Dit lyk baie oud en of dit al lank hier in die water lê. 
Omdat ons energie minder is vandag oortuig ons onsself dat ons vroeër moet eindig.  Ons het een goeie rede, ons is nie lus om in die donker te sukkel om by die kar terug te kom nie.  Ons tweede, minder goeie rede is dat ons nog by ‘n winkel moet uitkom om aandete te koop.  Ons plan was oorspronklik om vanaand weer terug te ry huis toe, maar ons het gisteraand so lekker gebraai dat ons dit weer wil doen.  Ons het dus vanoggend gereel om nog ‘n aand oor te slaap, maar ons het nie wyn en vleis vir nog ‘n aand ingepak nie.  Ons hou dus 3:30 op met stap met die plan om teen 5 uur die kar en kos te hê. 
Ons eindig by ‘n massiewe klomp rotse.  Daar is enorme rotspoele.  Die plan was dat ma en seuns nog 1 km moet stap en dan by ‘n parkeerterrein vir pa moet wag.  Die seuns geniet egter die poele so baie dat ma moed opgee en besluit dis die einde van vandag se stap.  Nou geniet ons net die see.  Daar is baie enemenies en ander goed wat suig in die water.  Ek wens my marine biologie en geologie was beter.  Die seuns sit hulle hande op die goed wat suig en dan suig hulle aan jou hand vas en maak toe en as jy jou hand oplig sit jou handafdruk teen die rots waar hulle toegemaak het.  Hulle stap in die water rond, kry slakke en krappe en speel.  Dis lekker langs die water.
Pa is besonder gelukkig.  Hy moet ‘n stywe bult uitstap tot by die wagplek vir die taxi.  Hy wag saam met ‘n jong swart meisie met ‘n baba.  Sy sê dat mens gewoonlik die tyd van die dag ‘n uur wag. Daar ry 3 taxis verby wat so vol is dat hulle nie eers stop nie.  (En dit sê baie as ‘n taxi te vol is om jou op te laai.)  Terwyl hulle wag stop daar ‘n vrou wat pa ‘n geleentheid aanbied.  Sy laai hom en die meisie naby die kar af.  Baie nader as gister se taxi.  Pa is dus redelik vinnig, teen 4 uur, terug by ma en kinders op die rotse.  Ons speel nog bietjie op wat Kellerman rocks genoem word.
Gister, toe ons van Durban af gery het, het ons by ‘n redelike groot spar met ‘n special op ribbetjies verbygery.  Dis in Hibberdene.  Ons ry nou omtrent 10 km tot daar.  Die spar is baie besig, maar oop en ons koop slaai, spare ribs en ‘n bottel wyn.  Hulle het nie ‘n Baronne nie, maar wel ‘n Duet van Nederburg.  Net so lekker.  Ons braai weer vleis.  Die storte is heerlik en ons val almal lekker vol, tevrede en moeg in die bed. 

Die volgende oggend word ons wakker, eet ontbyt en ry terug na Durban.  Dis ‘n vakansiedag, maar ons het nog ‘n skooltaak om klaar te maak en mure om te verf by die huis voor die werkweek begin.  Ons kan regtig nie nog ‘n dag stap en vakansie hou nie.
Ons het amper 20 km gestap tussen die twee dae.  Glad nie te sleg nie.
Begin van die dag.  Ons het darem 'n sin vir humor

Die rotse waar ons gister geeindig het

Die rotse waar ons gister geeindig het



Speel met ons pitjies in die water

Groot rots, groter brander

Pa en seuns doen "Powerwalking".  Al manier hoe ons iewers gekom het

Wat is dit?
Kellerman Rocks:  Einde van die staptog


Eendjies, eendjies daar in 'n ry

Jonathan Livingston Seagul

Hulle lyk sommer soos honger kinders wat hulle kos in die buitelug verdien het

Meeste van die goed wat twee seuns oor twee dae bymekaarmaak

Besig om handafdrukke te maak


Statistiek
Tyd: 9:00 tot 3:30; 6 uur en 30 min
Afstand: 8.7
Spoed: 1.42 km/uur
Aantal stappers: 4
Stroompies oorgesteek:  Ten minste 5; kleinerig
Aantal nagte oorgeslaap:  2
Afstand gery:  20 km

Monday, August 22, 2011

Dag 5: 7 Augustus 2011, Port Shepstone tot Southport

Kampeerterrein, met net ons tentjie
Die Here sal voorsien (ons beplanningsmetode)

Ons is Suidkus toe vir die langnaweek. Saterdag was die weer goor.  Ons ry toe eers Sondag, sonder 'n bespreking. Ons het 'n paar woonwaparke gebel deur die week; die meeste antwoord nie hulle telefoon nie; een was erg duur (regtig, soveel geld vir 'n kampplek buite seisoen?) en een wou nie'n bespreking neem nie, hulle sê ons moet net kom daar sal plek wees (Hulle is ook nie regtig goedkoop nie). By Southport aangekom stop ons by 2 plekke om slaapplek te vra, maar albei is vol. Oeps. Ons sien 'n advertensiebord vir 'n plek wat ons nie probeer bel het nie (Klein Paradys), ry soontoe en kry 'n kampplek. Vir R100 per nag. Dis mos nou meer hoe 'n buite seisoen tarief moet lyk. Die eienaar is baie vriendelik. Hulle het nie kampers verwag nie en die kampterrein is nie skoongemaak nie, waaroor hy baie apologeties is.  Die plek is nie baie vuil nie.  Die gras kort ‘n sny en die badkamer lyk soos badkamers lyk as hulle lank toe gestaan het.  Ma en seuns slaan tent op terwyl Pa gaan vorms invul en betaal. Later, toe ons terugkom na 'n lang dag se stap, is die gras gesny en die badkamer skoon.  Die interessante ding van die kampterrein is dat elke kampplek sy eie badkamer kry wat kan toesluit. Oulike idee.  Daar is geen sand nie, die hele plek is dik groen gras. Ons hou van Klein Paradys. Maar wees gewaarsku, ons standaarde vir kampterreine is laag.

www.klein-paradys.co.za

Ons moet bieg en verskoning vra. Ons het langs die see gaan stap, sonder ons vriende. Vriende, as julle hier lees voor ons met julle kan praat, ons vra om verskoning.  Ons het Suidkus toe gekom vir die naweek, besef dis te koud vir swem, nie mooi geweet wat om te doen nie en toe ons weer sien, stap ons.

Die Here het klaar blyplek voorsien. Ons tweede problem is hoe ons weer by ons kar gaan terugkom aan die einde van die dag. Omdat ons alleen hier is het ons nie 'n tweede voertuig om ons op te laai nie.

Ons begin 10:08 die oggend stap. Ons stop op 'n klein straatjie net suid van Port Shepstone. Daar staan 'n paar karre in 'n parkeerterrein met vissermanne op die strand. Effe verlate. Dit is naby ‘n klomp rotse wat Potweni rocks genoem word. En ons stap, lekker.

Tiaan is 'n regte Strandloper. Hy maak goeters op die strand bymekaar so ver as wat hy stap. Hier is 'n klompie rotse in die see en op die strand lê baie seegras, mooies, en stukke kreefskelette sonder die sterte. Hy tel woes op. Ons besef dat ons eintlik vir die kind 'n sak sal moet saamdra om goeters in op te tel.

Daar is 'n mooi wit verweerde boomstomp op die strand. Francois stel voor ons neem 'n familiefoto op die stomp en daarna dring Tiaan aan op 'n foto op elke wit stomp wat hy sien. Ons het nou baie fotos van ons op wit stompe.

Die seuns stel in alles belang en ondersoek rotspoele, riviere, alles wat op die strand lê.  Dit maak hulle baie stadig. Ons kom met 'n skok agter dat ons net 1 km in die eerste uur gestap het.

Dit is Sondag vandag en ons stap verby 'n Hindu gesin wat 'n kleurvolle offer te water laat, met die reuk van wierook in die lug, en 'n klomp Sioniste in groen, swart en wit geklee wat lede in die see doop.

Na wat soos 'n ewigheid voel kom ons by die Port Shepstone vuurtoring. Dit word meestal deur ruie plante weggesteek aan die see se kant.  Net na die vuurtoring is 'n groot rivier, regtig groot, wat ons moet oorteek, die Mzimkulu.  Daar sit heelwat vissermanne langs die see en langs die rivier.  Die rivier het 'n baie groot brug en ons probeer reg onder die brug kruis. Ons kies die smalste, stilste deel van die rivier ‘n entjie voor die brug. Dit lyk maklik.  Pa probeer.  Hy is tot by sy knieë, in die water, toe sy middel en toe hy nog 'n tree gee is hy pens en pootjies in die water.  Hy spartel terug wal toe en ons besluit om maar die brug te probeer, dit is mos hier. Pa droog sy klere uit, die seuns speel bietjie in die water en ons mors seker omtrent ‘n halfuur by die rivierkruising.  Ons klouter teen ‘n steil wal uit na die brug en stap toe maar op die teerpad op die brug oor die rivier.  Dit is nogal ‘n lang brug, 360 m lank.  

Na die brug stap ons op ‘n reguit strand met min afwisseling.  Ons probeer bietjie tyd opmaak.  Ma en Pa vat elkeen ‘n kind se hand en stap vinnig.  Dit werk en ons kan dit vir omtrent 900 m doen, waarna ons hulle weer op hulle eie spoed laat rondspeel en tyd mors. 

Aan die einde van die dag, 4 uur, want ons weet nie hoe lank ons gaan sukkel om weer ons kar te kry nie, verlaat Pa die res van die gesin.  Ons sit op 'n sementblok langs 'n pad saam met 3 swart mense en 'n baba. Ons eet en drink iets, Pa los die rugsak en vat net die nodigste - geld, selfoon, water en karsleutels. Hy het streng instruksies om elke 20 min vir Ma te laat weet dat hy OK is. Ons vra die swart mense waar hy 'n taxi kan kry. Net hier teen die straat op, en hulle wys vir hom die teken vir Port Shepstone, ‘n vinger wat af wys.

Die seuns is moeg en nie baie gretig vir verder stap nie. Ons sit nog 'n rukkie, eet (om die sak ligter te maak) en net voor ons stap klim 'n man uit 'n kar met 'n  luislang. Hy sê die is 13 maande oud. Wow!  Die kinders maak ook nie altyd vir my sin nie.  Hulle kla dat hulle moeg is, maar loop draaie agter goed aan en dra sulke swaar goed met hulle saam.  Hulle tel ‘n groot bamboes op en klomp harde vruggies wat hulle daarin sit.  Die ding word saamgedra.  Hulle laat lê dit waar ons vir Pa groet en onthou na ‘n rukkie weer daarvan.  Ons gaan haal dit na ons die kar het, dit is darem nog daar. 

Ons stap nog omtrent 1 km. Dis lekker. Die son is agter die duin, die strand word in sagte lig gebaai, daar is skielik weer baie mense op die strand; ouerige pare wat stap, 'n klomp jongmense (matrieks?) met 'n ouer man wat vuur maak langs die see. Pa se SMSe begin inkom "Ek het 'n taxi gekry". Ons stop baie, rus en eet. Die kinders is moeg.

Ons kom by die beplande einde waar Pa ons moet kom oplaai. Daar is mooi rotse wat in die see in loop. Heelwat mense loop hier rond en 'n visserman of 2 maak lyn nat. Die seuns speel in 'n hoë rots waar hulle opgewonde 'n “bed” ontdek.  Pa kry ons teen 5:55. Ons is baie trots op onsself. 'n Goeie dag se stap. En ons kon weer by ons kar uitkom ook!

Pa het maklik 'n taxi gekry en tot in Port Shepstone gery, maar ver van die kar uitgeklim toe die taxi in die dorp in ry en nie meer seelangs nie. Hy het 3 km gestap, die kar gekry en ons kon haal.  Die Here het voorsien in die tweede ding; ons kry weer ons kar.

Die aand braai ons vleis en drink 'n Baronne.  Man, dis lekker. Ons is alleen in die kampterrein, sien en hoor apies in die bome en sien vlermuise oor ons vlieg.  Ons kan sien hoe apies ver van boom tot boom spring.  Die eienaars se twee honde Patayo en Blackie (swart worsies) maak vriende met die seuns en speel te lekker. Hulle gee nie om om rondgedra te word nie.  Ons klouter teen 7:30 in die bed en slaap baie lekker met die geluid van die see in ons ore en ons seuntjies reg langs ons.

Die seuns het so lekker met die twee worshondjies gespeel, as hulle nog nie ‘n hond gehad het nie sou ons na die naweek een gekoop het.
Statistiek
Tyd: 10:08 tot 5:38; 7 uur en 30 min
Afstand: 10.7
Spoed: 1.47 km/uur
Aantal stappers: 4
Stroompies oorgesteek:  Meer as wat ons kan onthou
Riviere oorgesteek:  1 (op ‘n brug)
Aantal fotos van gesin geneem op ‘n boomstomp: 5
Aantal nagte oorgeslaap:  1
Gety poele:  5
Vuurtorings:  1
Afstand gery:  248 km
Net nadat ons begin het, die Potweni Rocks.  Die seuns het so baie goed hier op die strand opgetel

Die eerste gesinsfoto op 'n stomp, daar was nog baie

Hulle speel in elke enkele riviertjie
Lyk die man nie soos 'n breker nie?  Of 'n dapper stapper.

Die familie.

Een van die goed wat die seuns 'n hele entjie saamgedra het.  En toe langs die pad laat le het toe pa die kar gaan haal het.
Patayo, die hond by die kampterrein wat graag met kinders speel


Sonsondergang aan die einde van die dag


Wednesday, August 10, 2011

6 Augustus 2011 : Die Phoenix

'n Tussen die nommers blog vandag (dit maak meer sin as mens Stephanie Plum boeke lees).

Die maroon strepie lei na die skip
Op 26 Julie, terwyl Durban die goorste koue winterweer in my mense heugenis gehad het, het die Phoenix op die strand geloop.  Die skip was op pad na 'n skrootwerf (go figure!!) in Indie met 15 bemanningslede. Die bemanninglede is met helikopters gered en die olie is uitgetap. Met  springgety laas naweek het hulle probeer om die skip terug see toe te trek. Blykbaar is daar niks fout met die skip. As sy net in die water kan kom kan sy verder vaar na haar skrootwerf.


Op die oomblik is die skip op die strand 'n attraksie, al vra die owerhede dat mense nie kom kyk nie. Hulle pla glo met die reddingspoging. Ons is Saterdag nuuskierig en gaan kyk na die skip. Sy lê naby aan die plek waar ons op Dag 3 opgehou stap het. Die polisie het die pad soontoe afgesper. Mens kan nie tot naby ry nie. Dis omtrent 'n kilo se stap. Ons vat 'n nie amptelike kortpad en stap die meeste van die pad op die strand. Dis lekker om by die see te wees. Dis mooi hier met baie pikswart rotse. Dis 'n stukkie van die stap wat Ma gemis het na haar voetbesering. Die skip is afgesper en mens kan net van een kant af foto’s neem.  Bly ons het kom kyk.

Die is nie deel van die projek nie, want ons het al hier gestap. Ma het nog nie, dit was deel van die 5 km wat ons gestap het na haar voet seergekry het. Sy doen dus darem 1.3 nuwe kms.

Afstand gery: 90 km
Afstand gestap: 3 km (heen en weer)

Skip op land

Attraksie

Die Phoenix