Wednesday, August 15, 2012

Kosibaai

Ons is die Julie vakansie Kosi baai toe.  Met groot verwagting om ‘n entjie te stap.  Ons is saam met my ouers.  My pa kan nie so ver stap nie en my ma hou nie van sand nie, so ons het toe net vakansie gehou en niks, heeltemal niks, gestap nie.  Ons noem dit maar navorsing doen.  Ons het na die mond toe gery en die pad Bhanga nek toe gevind, geen maklike taak nie.  Hopelik sal ons nou wel weet wat om te doen as ons daar gaan stap. 
Black Rock

Kosi Mond, snorkel plek is ver oorkant die water

Ons het wel heerlik in die mond gesnorkel.  Dit was ons jongste se eerste snorkel en hy is geheel en al ge-hook op snorkel. 
Bhanga Neck

Friday, August 10, 2012

Dag 19:  23 Junie 2012: La Mercy (Desainager tot Umdloti)

Die weer is nie eintlik ideaal vandag nie, maar ons het so lanklaas gestap dat ons maar in elk geval gaan.  Ons los een kar in Umdloti, waar ons op Dag 18 klaargemaak het en die ander kar net na die eerste sirkel na mens oor die brug by La Mercy gery het.   Dit is altyd pragtig as mens op die M4 ry en oor die brug by die La Mercy Laguun ry.  Dit is ‘n groot laguun, lyk altyd blou en rustig.
Daar is ‘n rede hoekom mens die goed betyds moet opskryf.  Ek sukkel nou vreeslik baie om enige detail van die stap te onthou.  Dit was net ons gesin van 4 wat gaan stap het.  Die monster het ook saamgestap.  Ons het voorspoedig gestap, op ‘n dooie klein haaitjie afgekom.  Dit was maar reenerig en grys.  Dit het heeltyd gelyk na reen. 
Kort voor ons by die laguun kom sien ons baie mense met bote uit die water kom.  Ons bespiegel lank wat dit is en vind later uit dit is die einde van een of ander KwaZulu-Natal roei kompetisie.  Dit klink of hulle van Ushaka af geroei het.  Dis seker omtrent 40 km.  Ons sien die einde van die resies.  Dit is ‘n redelike groot resies met TV kameras, fotograwe in die water en ‘n helikopter wat bo-oor vlieg.  Dis verstommend hoe baie interessante aktiwiteite mens altyd kry as jy op die strand stap.
Die laguun is pragtig, en ons sien ‘n visarend.  En toe begin dit saggies reen.  Ons stap vinnig in die koel reen tot by die kar en ry huis toe. 
Afstand:  6 km
Tyd:  3 ure
Dooie haai

Die einde van 'n kano resies

La Mercy Laguun