Thursday, April 26, 2012

Dag 18: 21 Maart 2012, Umhlanga tot Umdloti

‘n Vakansiedag in die middel van die week gee ons die geleentheid om te gaan stap.  Ons kry mekaar 7:00 en ry noord.  Ons los albei karre by die strand in Umdloti en word deur ‘n familielid na Umhlanga gery.  Ons begin op die brug net na Umhlanga.  Ons klouter teen die brug af, stap by die lagoon verby, soms maar effe moeilik om tussen die water en plantegroei deur te kom en begin seker so 3 km van Umhlanga se noordelikste strand stap.  Dit is 8:15 toe ons langs die laguun in die pad val. 
Die stukkie strand is langs ‘n wildreservaat, die  Umhlanga Lagoon Nature reserve.  Dit beteken dat daar geen huise en ontwikkeling langs die pad is nie.  Die enigste maklik bereikbare menslike aktiwiteit is ‘n hengelklub wat met ‘n klein paadjie bereik kan word en naby die hengelklub se ingang sit ‘n gesin en swem ‘n paar snorkelaars in die rotse.  Verder moet jy bereid wees om ten minste 3km in een rigting te stap as jy hier wil wees.
Dis ‘n strand met heelwat rotse en rotspoele.  Plek-plek is daar regtig pragtige poele vir snorkel.  Ons maak ‘n nota van die moontlike snorkelplekke, ons beplan om terug te wees.  Die kinders vang krappies en ons kry hulle oortuig om die krappies vry te laat en nie huis toe te vat nie.  Die seuns is nogal besonder rats om die krappe te vang, nie ‘n maklike taak nie. 
Die mense langs die pad raak al meer hoe nader ons aan Umdloti kom.  Terug by die karre, gaan die een gesin huis toe en een ma en kind stap nog 0.8 km tot by ‘n groot rots op die horison, terwyl pa en ander kind die kar en swemgoed nader bring.   Daar is baie mense wat kite surfing doen.  En ons ontdek die wonderlikste strand.  Ek het nooit besef Umdloti is so ‘n lekker strand nie.  Daar is ‘n groot rots, met skerp punte waaroor ons met baie moeite klim.  Aan die ander kant is klomp poeletjies, een baie groot poel in ‘n groot rotsplaat.  Die groot rots word later ‘n baie oulike baadjie wat deur rotse baie dieper van die see afgeskei word en ‘n lekker reuse beskermde poel maak om in te swem.  Die poel word deur rotse gevorm, maar het ‘n sand bodem.  Die poel is seker so 150m by 40 m (ek raai) en het selfs kleinerige branders. Ek dink ons ‘n nuwe gunsteling strand ontdek.  Ek weet, ek weet.  Almal lag vir my as hulle hoor ek woon al 8 jaar en Durban en was nog nooit by Umdloti se strand nie.  Dis deel van die motivering van die staptog.  Dit gee vir ons ‘n geleentheid om die tipe goed te ontdek.  Ons klouters oor die rotse rond, speel in die rotspoele, swem in die groot poel en speel bietjie in die branders. 
Ons is nat en vuil en gaan toe sommer Gateway toe vir ‘n lekker drinkding.  Gelukkig sien ons niemand wat ons ken nie en word nie uit enige winkels gejaag nie.  Die ander gesin is na die Ballito familie toe om reg te maak vir ‘n verjaardagpartytjie.

Afstand gestap:  4.6 km vir twee van ons en 3.8 km vir die res
Tyd gestap:  2 ure vir eerste 3.8 km en omtent 30 min vir die laaste 0.8 km
Die brug op die M4 waar ons begin stap het

Umhlanga in die verte

Rotse

Dis 'n stuk rubber vol skulpe, nie 'n reuse seeslang nie

Reuse rots by Umhloti

Rotse, met die lekker swemplek in die verte: Umhloti