Ons moed is gister so effe gebreek deur die hitte. Die span is nie baie gemotiveerd vandag nie. Ons sit met een kind met ‘n seer voet en een kind met ‘n grieperigheid wat gepaardgaan met hoes en malaise. Ma het dieselfde ding ‘n week later en kan getuig dat dit geen grap is nie. Ons het dus ‘n baie klein kerngroepie stappers vandag. Dis net een ma en pa en jongste seun. Die Comrades pa wil eerder gaan draf. Een ma en drie van die kinder bly tuis. Hulle slaap laat en swem.
Om die hitte te mis, staan ons vanoggend vroeg op en beplan om teen 10:00 klaar te wees. Die drawwer pa draf van die huis af terwyl die res van ons ry tot in Port Edward. Ons begin basies waar ons gister geindig het, by ‘n plek met die naam Suicide Rock. Ek kan glad nie uitvind hoekom dit so genoem word nie. Al wat ek kan uitvind is dat dit ‘n baie gewilde visvangplek is, en ook gevaarlik is want die see kan die vissermanne daar maklik van die rotse afslaan. Ons is so vroeg dat ons al 5:08 langs die kar staan by Suicide Rock. Dit is so vroeg in die oggend dat die mense wat gister parkeergeld geëis het nie eers daar is nie.
Vandag is die totale teenoorgestelde van gister. Dis mistig en reënerig en ons het so amper-amper natgereen. Ons klein mannetjie het ‘n warm baadjie aan en ma en pa het so effe gewonder of ons nie ook maar warmer moes aantrek nie. Mens kan nie glo dat gister en vandag in dieselfde seisoen is nie. Ons moes alles andersom gedoen het. Gister vroeër begin het met ‘n kleiner groep en vandag heeldag gestap het met almal. Dis heerlik om buite te wees in die lekker koue weer.
Die eerste stukkie van Port Edward af is baie mooi. Daar is baie rotse. Dit is ‘n natuurreservaat volgens die kaart. Ons sien niks mense of huise vir die eerste ruk nie. Ons het wel mense gesien by die hoofstrand in Port Edward net waar ons begin het.
Ons stap by ‘n geroeste ding wat op die rotse lê verby. Dit kan seker ‘n skipsenjin of iets wees. Volgens die kaart is dit die wrak van die . Daar is ook ‘n stel trappe op ‘n baie groot rots in die see. Ma en Tiaan klouter oor groot rotse om die trappe te probeer, maar sien op die einde nie daarvoor kans nie, want dit is op ‘n baie groot rots diep in die see met branders tussen ons en die rots.
Na ‘n entjie se stap kry ons die drawwende pa van voor. Hy en ons pa is baie snaaks en groet mekaar asof hulle lank verlore ontdekkers is. Mense kyk hulle maar so effens vreemd aan. Ons gee vir hom ons kar se sleutel en die plan is dat hy tot by ons kar sal draf en ons dan oplaai.
Tiaan wou graag vandag 6 km stap en ons hou aan tot ons by 6 km verby is. Toe moet ons ‘n goeie oplaai reël en op die einde het ons 7.6 km gestap. Ons wag langs ‘n rivier vir ons kar. Dis baie koeler en dit sou eintlik lekker gewees het om verder te stap, maar ons is ook nogal effe moeg. Dis lekker om te sit en te rus en miskien maar ‘n goeie ding dat ons nou ophou vir die dag. Ons is klaar gestap teen 9 uur en terug by die huis om 10:00 met ‘n laat ontbyt.
Ons het darem die naweek 16.9 km gestap. En ons het geleer dat KwaZulu-Natal midsomer nie ‘n grap is nie.
Statistiek:
Vandag se afstand:
Sommige mense: 0 km
Drawwende pa: 16 km?
Die 3 stappers 7.6 km
Tyd gestap: 4 ure
Naby aan die einde; 'n stop langs 'n mooi lagoon |
Die geroeste ding langs die see |
Peace ! |