Na ‘n week van ononderbroke reen ly ons erg aan cabin fever. Ons het nodig om uit te kom en te beweeg en son te kry. Ons slaap lekker laat Saterdag en bel toe ons vriende om te vra of hulle vandag kan gaan stap. Hulle is ongelukkig besig, maar ons het nodig om te gaan. Dit reën nie, en daar is stukkies blou lug, maar ook baie wolke.
Ons ry in twee karre na Umhlanga; los die een naby die vuurtoring en ry suid. Die tweede kar los ons in ‘n parkeereterrein met baie potholes langs die Virginia lughawe. Ons was nog nooit hier nie, en dis interessant om die lughawe te sien. Daar is baie klein helikoptertjies.
Die strand was lank en reguit, niks rotse, niks riviere, niks besonder opwindend nie. Tiaan het lank in die water gespeel, Arnold het amper onophoudelik met sy pa gesels en ma het na die mooi huise van die ryk mense gekyk. Maar dit was baie lekker. Dit was heerlik om uit die huis te wees en son op jou te voel. Omtrent halfpad het Arnold gekla dat sy maag seer is. Ons het nie eintlik geweet wat ons daaraan kan doen nie en het toe gesê ons kan bietjie rus en hy kan lê. En toe lê ons almal op die lekker warm strand en rus. Ons eerste middagslapie terwyl ons stap. Dit was regitg baie lekker.
Ons eindig by Umhlanga, langs die vuurtoring. Tiaan swem bietjie. Die res van ons is nie eintlik lus daarvoor nie. Die see by Umhlanga is nou nie eintlik die lekkerste swemsee nie. Ons sit so bietjie rond en wag tot hy klaar geswem het. En toe stap ons kar toe en gaan haal die ander kar. Wat ‘n lekker, lekker dag.
Behalwe vir die stukkie reg by die vuurtoring by Umhlanga was ons nog nooit op die stukkies strand nie – Umhlanga Rocks en Umhloti.
Statistiek: Afstand gestap: 6.2 km
Tyd gestap: 11:18-3:15; sluit swemtyd in; 3 ½ uur
Afstand gery: 50 km
Middagslapies: 1
Durban se stad in die verte |
Die lekker lekker middagslapie; geneem deur die een wat nie geslaap het nie |
Umhlanga vuurtoring |
Swemmer aan die einde |