Monday, November 28, 2011

Dag 11: 30 Oktober 2011; Balito tot verby Zimbali

Die manne stap alleen!

Met beide vroue nie in Durban nie, het die manne besluit dit is 'n uitstekende kans om bietjie te gaan stap.  Ons wou graag aan onsself, ons kinders maar veral ons vroue bewys dat ons ook verantwoordelik kan wees.  Die Sondagmiddag stap het maar 'n moeilike begin gehad.  Net omdat vrouens nie in Durban is nie, beteken nie dat hulle jou nie rondjaag om goed aan te ry nie.  Dit het gelyk of ons moontlik eers baie laat sou begin. Tussen kerkfeeste en etes en internetkaarte vir vrouens rondry het ons gelukkig wel aan die stap gekom.

Op pad na Ballito het een kind die opmerking gemaak: 'If it rains we should LIMIT the walking!' Let wel, nie stop of nie doen nie, maar beperk!   Toe ons by die suidelikste punt van Ballito uit die kar klim was daar inderdaad reen in die lug.  Ons sien nog 'n parkeerplek omtrent 100 m verder en besluit om net tot daar te stap en dan te besluit of ons voortgaan.  Die oupa wat die aanryer vir die dag was ry toe daarheen en ons stap in baie ligte reen tot daar. Een van die kinders besluit hy het genoeg gehad na 300 m en die res gaan aan.  100 m verder hou dit op met reen en ons stap baie lekker verder.

Die stap is rustig, en ongejaag. Ons rus heelwat, maar nie lank nie. Daar word baie lekkers geëet om die bloedsuiker hoog te hou! Elke kind het sy eie sakkie. Comrades pa stap baie mooi saam met sy dogter en pas haar mooi op.  Ons pa's het besluit ons wil nie die kinders opstandig maak of enige rebellies hê nie, so die stap word kort gehou.

Statistiek:
Afstand 3.8 Km
Tyd 2 ure
Kinder seergekry/dood/verloor: 0
Klere verloor: 0
Rebellies: 0
Duidelike bewys dat die vaders ook verantwoordelik kan wees: 1
Foto’s geneem: 0  (Die ma’s was nie daar om ons te herinner aan foto’s neem nie)